Gallery
OUDTSHOORN NUUS - Die Helping Hands Community Projects van Oudtshoorn (HHCPO) kry nie tyd vir stilsit nie.
Die klomp vrywilligers is soos besige bytjies oral doenig met die skoonmaak en opruiming by skole, crèches, kerke en oop terreine wat met onkruid oortrek en vullis besaai is.
FOTOGALERY: Oudtshoorn-begraafplaas Helping Hands Community Projek
Hul nuutste opknappingstaak Maandag, was om die Oudtshoorn-begraafplaas onder hande te neem.
Emile Cupido, projekbestuurder van HHCPO, sê dis hartseer om te sien in watter toestand die begraafplaas is. "Ongeag die hitte het ons doelgerig voortgegaan om die onkruid, wat plek-plek kniehoogte staan, uit te roei. Dis werklik tragies om te sien hoe ons geliefdes se laaste rusplek lyk."
Hy sê HHCPO sal vir die res van hierdie kwartaal besig wees met opruimingswerk by die begraafplaas. Ons sal op Maandae, Dinsdae en Donderdae van 09:00 tot 13:00 daar doening wees.
Hy het ook die Oudtshoorn-munisipaliteit se tuine- en parkeafdeling versoek om hulle te help met die wegry van die bosse en onkruid wat al uitgehaal is.
"Ons glo dat ons saam eienaarskap moet neem van Oudtshoorn en wil ook graag 'n versoek rig aan die gemeenskap om 'n maandelikse donasie te maak sodat hulle iets in die hande van die vrywilligers kan stop."
"Ons vra nie reuse bedrae geld nie, maar as inwoners hul beursies effens kan oopmaak en elkeen 'n paar rand kan skenk, sal dit ons saak baie versterk en kan ons dalk nog meer werkloses betrek om te help met die opruimingswerk."
Hy sê HHCPO sal vir die res van hierdie kwartaal besig wees met opruimingswerk by die begraafplaas.
Alle donasies kan na HHCPO se bankrekening gemaak word by:
- Bank: Capitec
- Rekeningnaam: HHCP
- Rekeningnommer: 1703579052
- Verwysing: begraafplaasprojek
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'