OUDTSHOORN NUUS - ACVV Helen Bellinghanhof-tehuis hou een van die dae hulle grootste fondsinsamelingsprojek van die jaar.
Die basaar, wat op 4 Maart plaasvind, is elke jaar 'n groot sukses en help gedeeltelik om die begroting te laat klop.
Sr. Colleen Fourie, bestuurder van die tehuis het verlede jaar aan Oudtshoorn Courant vertel dat die hysbak, na vele herstelwerk, die gees gegee het en nou onherstelbaar is.
Volgens haar veroorsaak dit 'n groot uitdaging omdat verswakte inwoners nou van die oprit gebruik moet maak.
Die tehuis sal eersdaags 'n deposito van R600 000 moet neersit om werk aan die hysbak, wat R1,2 miljoen kos, aan die rol te sit.
Fourie vertel dat daar ook beplan word om die bussie wat nou 23 jaar oud is te vervang omdat die ook besig is om die gees te gee, vertel sy.
Die bussie word hoofsaaklik gebruik om inwoners wat in 'n rolstoel is na doktersafsprake te vervoer.
Fourie doen 'n beroep op die inwoners van Oudtshoorn om op 4 Maart die basaar te ondersteun.
Indien daar iemand is wat graag 'n bydrae tot die hysbak en bussie wil maak, kan hulle haar by 083 564 6175 kontak. 'n Lys van benodigdhede vir die basaar kan ook by Fourie aangevra word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'