"Daardie man het my lewe gered," het Lennox Claassen vertel oor sy vriend Jacques Terblanche.
Terblanche, 'n werknemer van Ton's Sport op Oudtshoorn, het die verhaal Maandagmiddag vanuit sy hospitaalbed aan die Oudtshoorn Courant vertel. Daar was steeds angels in sy mond, neus en ore.
Terblanche en Claassen, 'n prokureur van George, wat beide vir die Bridge-span gery het, was deel van 'n bondel ryers wat deur die wegbreekgroep van sowat 30 ryers agtergelaat is. Jacques vertel dat 'n vroue-ryer ongeveer twee uur in hul ren, sowat 58 km vanaf die wegspringpunt, op pad terug was en hulle gewaarsku het dat 'n swerm bye op die roete was.
"Ons groep het 'n ompad probeer kry, juis omdat Lennox so allergies is vir bysteke," het Terblanche vertel. "Die oomblik toe ons weer terug was op die roete het die swerm ons toegepak. Lennox het sy fiets neergegooi en probeer om weg te hardloop."
Die hele groep is deur die bye aangeval wat glo aangetrokke is tot die reuk van sweet. Een van die fietsryers het Lennox in die pad sien lê. "Lennox is ses keer in die kop gesteek," vertel Terblanche. "Hy het swaar asem gehaal." Terblanche het terug gehardloop om sy vriend se antihistamien by sy fiets te kry en is weer deur die bye aangeval. Lennox was op hierdie stadium reeds so verswak dat hy nie sy antihistamien-pille kon sluk nie.
"Al waaraan ek kon dink was dat ek nie my vriend vandag wou verloor nie."
Slegs een van die ryers, Naudé Le Roux, het 'n selfoon by hom gehad. Terblanche het sy verloofde, Chrisna, geskakel wat op haar beurt die EMS-helikopter ontbied het. Nooddienstepersoneel het adrenalien-inspuitings toegedien en Lennox was een van die eerste ryers wat na die hospitaal geneem is.
"Groot dank aan die manne van AMS wat ons gered het," vertel Terblanche.
"Die oggend het ons nog geskerts en Lennox het my gevra of ek al ooit in 'n helikopter gevlieg het. Ek het vir hom gesê dat ons vinnig 'n plan kan maak."
Jacques en Chrisna wil graag die volgende persone bedank: Stephan, Graham en die AMS-span, Anrie Muller, Bernard le Roux en Henco Rademeyer van Dryland Events Management.
Henk Meyer, verbonde aan die Bridge-span, was ook verras deur die spoed waarmee AMS nooddienste gereageer het. "Ek is op die toneel behandel met meer as `n 100 angels wat verwyder is. Sommige ryers was allergies en nie so gelukkig om te kon aangaan nie. Gelukkig was die noodhelikopter gou by ons."
Me. Mokwena, woordvoerder van die plaaslike Mediclinic, het bevestig dat 14 fietsryers opgeneem is waarvan een in 'n kritieke toestand. Teen Dinsdagoggend is 13 van die ryers ontslaan met die wat in 'n kritieke toestand was reeds buite gevaar. Carel Heroldt, organiseerder van die toer, het aan Oudtshoorn Courant vertel dat die groep van sowat 20 ryers by Kruisrivier deur 'n swerm bye aangeval is.
Die kritiek-beseerde ryers is by die tweede waterpunt gestabiliseer waarna EMS-helikopters hulle na hospitale vervoer het. 'n Helikopter wat deur 'n televisie produksiespan gebruik is, het ook beseerdes vervoer. Heroldt het ook sy dank teenoor die noodpersoneel uitgespreek.
* The value of true friendship was proven on Monday. Lennox Claassen, a well-known lawyer from George, expressed gratitude toward his friend, Jacques Terblanche from Oudtshoorn, who saved his life following an attack by swarms of bees. The two friends participated in the Bridge Cape Pioneer Trek cycle race as part of the Bridge team. Terblanche put himself in harm's way to save Claassen who is allergic to bee stings.

"Daai man het my lewe gered," vertel Lennox Claassen, bekende prokureur van George.
ARTIKEL: JO-MARIE DE KOCK EN JACQUES SWART, OUDTSHOORN COURANT