PRINS ALBERT NUUS - Die befaamde Prins Albertse kunstenaar Hekkie Moos (80) is Woensdagoggend tuis oorlede. Na verneem word, het hy aan sy hart gesterf.
Prins Alberters wat hom goed geken het, bestempel hom as een van dié dorp se voorste inwoners, ’n kunstenaar van formaat en ’n méns-mens wat die hele gemeenskap gedien het.
Hy was nie net een van die kunsgalery Prince Albert Gallery se vaste uitstallers nie, maar ook jare lank ’n onderwyser in Engels en kuns by Prins Albert Primêr. Hy is in 1940 in Oudtshoorn gebore en het in 1969 na Prins Albert verhuis waar hy en sy vrou, Glenda, sedertdien woon.
Denise Ohlson, wat hom dekades lank ken, was een van die eerste inwoners van die dorp wat sy kunstenaarskap dekades gelede “ontdek” het. Dis die sagtheid en deernis in die figure in sy skilderye en die subtiliteit van kleur wat vir haar die indrukwekkendste is, sê sy.
Mary-Anne Botha van die Prince Albert Gallery sê “’n groot boom in die gemeenskap het geval. Hekkie het ’n enorme bydrae tot ons gemeenskap gelewer.”
Derek Hendriks, skrywer van die boek Oppe en affe, vertel Moos was een van sy onderwysers in die laerskool. “Sy hart was opreg, sy huis was altyd oop vir my, en hy het altyd raad gehad as ek vrae gehad het wat pla. Hy het my altyd met respek behandel en ’n groot rol gespeel in die skryf van my boek. Die lewenslesse wat ek by hom geleer het, was groot.”
In sy boek Stories uit Lap, skryf Poem Mooney: “As jy die naam Hekkie Moos noem, verbind jy hom onwillekeurig met groot geeste, soos die beroemde kunstenaar Amos Langdon en die ewe kwistige kwas-toorder Conrad Theys. Gesels jy met Hekkie, kom jy agter dat hy ’n fyn studie gemaak het van die meeste groot kunstenaars in Suid-Afrika.”
Een van Moos se geliefkoosde mediums was balpuntpen en hy was bekend daarvoor dat geen los papiertjie, leë sigaretdosie of stukkie karton onaangeraak gebly het nie as dit in sy hande beland het: Die uiteinde was selfs ’n miniatuur-kunswerk wat in sy beursie gepas en hy met hom saamgedra het.
* Begrafnisreëlings is nog nie bekend nie.
Kunswerke van Hekkie Moos in die Prince Albert Gallery.
Kunswerke van Hekkie Moos in die Prince Albert Gallery.
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Klein Karoo nuus'