Gallery Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Alhoewel daar Saterdag nie soos met vorige saamtrekke dosyne en dosyne Harley Davidson-motorfietse deur Oudtshoorn se strate gebrul het nie, was hierdie naweek tog 'n aanduiding dat normaliteit dalk stadig terugkeer.
Tussen 20 en 30 Harley Davidsons het Kleinplaas in Noordstraat Saterdagoggend verlaat vir 'n rustige rit deur die pragtige Meiringspoort tot op Klaarstroom.
Die meeste van die Harleys was deel van 'n groep wat vir die naweek uit die Kaap Oudtshoorn toe gekom en by Kleinplaas oorgebly het.
Ongeveer 10 Harley Davidson-eienaars van Oudtshoorn en ander dorpe in die Suid-Kaap het Saterdagoggend by die groep aangesluit.
Hulle het om 10:00 vanaf Kleinplaas na Klaarstroom vertrek waar hulle middagete by die Klaarstroom Hotel genuttig het.
Fotogalery: Harley Davidson saamtrek op Oudtshoorn
Voor die Covid-19-inperking was Kleinplaas gereeld die gasheer vir reusesaamtrekke van Harley-geesdriftiges van oor die hele land.
Volgens een van die Harley-eienaars wissel die pryse van die motorfietse wat aan Saterdag se rit deelgeneem het tussen R85 000 en R500 000 elk. "As ek so vinnig moet skat staan hier omtrent so R4 miljoen se motorfietse onder die bome," het hy gesê.
Kyk 'n video hieronder:
Een van die HarleyDavidsons wat aan 'n Oudtshoorniet behoort. Foto: Hannes Visser
Die string Harley Davidson-motorfietse Saterdagoggend voor die Klaarstroom Hotel. Foto: Marlene Malan
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn Klein Karoo nuus'