BEAUFORT-WES NUUS - 'n Man met dwelms ter waarde van byna R600 000 in sy besit, is Maandag buite Beaufort-Wes in hegtenis geneem. Lede van die polisie se dwelmeenheid en Sentraal Karoo se honde-eenheid het die 36-jarige man tydens 'n gesamentlike operasie aangekeer.
Volgens kapt. Malcolm Pojie, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het die polisielede Maandag omstreeks 07:00 'n passasiersbus op die N2 afgetrek.
"Die bus is deursoek en 11 605 Mandrax-tablette ter waarde van R580 250 is tussen die passasiers se bagasie gevind."
Die man het die week in Beaufort-Wes-landdroshof vir die onwettige besit van dwelms verskyn.
Generaal-majoor Hendrik Burger, waarnemende provinsiale kommissaris van die Wes-Kaap, het polisiebeamptes aangemoedig om met hul goeie werk voort te gaan en 'n veiliger omgewing vir die inwoners te skep.
'Ons bring jou die nuutste Beaufort-Wes, Klein Karoo nuus'