‘n Gesin van ses, insluitend twee volwassenes, twee jong tieners en twee babas het verlede Vrydag in die vroeë oggendure onherkenbaar verkool toe hul dubbelkajuit bakkie teen ‘n minibustaxi gebots en in vlamme uitgebars het.
‘n Passasier in die taxi het ook omgekom in die ongeluk wat kort voor 03:00 sowat 20 km vanaf Laingsburg in die rigting van Matjiesrivier gebeur het.
“Dit is die grusaamste ongeluk wat ek in my loopbaan van meer as 40 jaar gesien het,” het Kenny Africa, hoof van Wes-Kaapse verkeer, gesê.
“Die liggame is onherkenbaar verbrand. As dit nie was vir die herkenbare oorblyfsels (skedels) nie, sou mens nie kon sê hoeveel mense in die bakkie gesterf het nie,” het Jacques Mostert, kommunikasiehoof van die departement gesê.
Kort na 03:00 dieselfde nag het twee vragmotors sowat 45 km vanaf Laingsburg in die rigting van Beaufort-Wes reg van voor gebots en ook in vlamme uitgebars. Die twee bestuurders en ‘n passasier het verkool.
Nog twee persone het in verskillende ongelukke gesterf, wat die totaal sterftes op paaie in die Sentrale Karoo op 12 te staan bring. Altesaam 25 persone is ernstig beseer.
Volgens Hein Rust, hoof van rampbestuur in die Sentrale Karoo, het daar volgens statistiek 38 ongelukke vanaf 1 Desember tot 18 Desember in die Sentrale Karoo voorgekom - ‘n gemiddeld van twee per dag. Die gemiddeld vir Desember 2012 was drie ongelukke per dag.
In die meeste van die 38 ongelukke op die N1 tussen Laingsburg en Leeu-Gamka was gewone voertuie (nie taxi’s en vragmotors nie) betrokke.
Volgens Rust word die meeste van die ongelukke wat in die nag voorkom veroorsaak deur vermoeidheid. Gedurende die dag word ongelukke meestal veroorsaak deur nalatigheid en swak bestuursvernuf.
Teen Woensdag het altesaam 16 persone sover die vakansie, in die Wes-Kaap in ongelukke omgekom.

Beide bestuurders van twee trokke en 'n passasier het verkool nadat die trokke op die N1 in 'n botsing reg van voor betrokke was.