Volgens Douwe Vlok, een van die ooggetuies, was hulle 'n klompie ruiters wat na 'n plaas genooi was om deel te neem aan 'n plesierrit.
Die plaashuis is hierdie jaar 'n 100 jaar oud en 'n paar genooides het bymekaar gekom om hierdie mylpaal te vier en gesellig saam te kuier.
Vlok vertel dat die ruiters gereed gemaak het vir hulle rit, toe dr. Loubser se perd ewe skielik op sy agterpote gestaan en agteroor, bo-op Loubser geval het. Loubser het gekreun, maar kon nie op nie omdat die perd hom vasgelê het. Die perd het self ook gesukkel om teen die skuinste op te kom en het nog 'n keer oor hom gerol. Daarna het Loubser doodstil gelê. Van die ruiters het die perd gevang en gekalmeer.
Teen die tyd het Loubser regop gesit. Vlok het hom genader en gevra of hy iets kan doen om te help, maar Loubser wou nie hulp gehad het nie.
Na die voorval was Loubser baie styf en seer, maar kon normaal voortgaan met al sy werksaamhede. Hy het egter die afgelope week vir X-strale gegaan en uitgevind sy stuitjie (sacrum) is gekraak. Hy is steeds potblou na die val, maar sê dat dit goed gaan onder die omstandighede.
Volgens Vlok was Loubser gelukkig dat hy sy valhelm opgehad het, want andersins kon dit moontlik 'n lelike storie gewees het.
'n Groep ruiters wat deel was van die plesierrit.
ARTIKEL: CARINA FOURIE
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'