OUDTSHOORN NUUS - ‘n Gesin in Malgasstraat, Bridgton, het verlede Saterdag groot skade gely toe hul huis onverklaarbaar aan die brand geslaan en die brandweer deur omstanders gekortwiek is om die vuur so gou as moontlik te blus.
Volgens Bernadette Gogela, dogter van Betty Hendricks van Malgasstraat 2218, was sy, haar man, Stephen en hul driejarige meisie, saam met haar ma vir die middag by ‘n tradisionele geleentheid in Bongolethu toe hulle die tyding kry dat hul woning aan die brand is.
“My suster en haar kêrel was die enigste twee tuis en volgens die bure het hulle rook uit die huis sien borrel toe die twee die huis verlaat het. Ek weet nie of die huis aan die brand gesteek is of wat gebeur het nie. My ma het ‘n interdik teen my suster se kêrel verkry,” sê Mogale. Volgens haar kon dit nie ‘n elektriese kortsluiting gewees het wat die brand veroorsaak het nie.
Volgens Gogela het haar nuwe hangkas met feitlik al sy en haar man se klere in die kamer wat gebrand het gestaan, omdat hulle dit nie in hul eie slaapkamer kon inkry nie. Sy sê omstanders kon daarin slag om hul televisiestel en stoof uit die huis te dra omdat die brand uitsluitlik in die een slaapkamer gewoed het.
Brandweerpersoneel wat vinnig op die toneel was, het probleme ondervind om hul werk behoorlik te doen, en was besig om op te pak toe die polisie op die toneel aangekom en hulle oorreed het om seker te maak dat die vuur heeltemal geblus is.
Een van die brandweermanne het aan die Courant gesê dat iemand selfs gedreig het om hom met ‘n mes te steek.
Die bejaarde eienaar van die aangrensende huis, Annie Jantjies (67), wat met twee krukke oor die weg kom, sê sy is groot dank verskuldig aan die brandweer wat verhoed het dat die brand na haar huis versprei het, maar voel baie sleg oor haar nuutgeverfde mure wat nou oorgeverf moet word as gevolg van die rook.
Mense wat hulp aan die twee gesinne wil verskaf kan vir Gogela by 065 168 0585 skakel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'