OUDTSHOORN NUUS - Twee lede van die dorp se Rotariërklub is Donderdagaand vir hulle uitsonderlike bydrae tot die gemeenskap vereer.
Die huidige president van die klub, Dalia Wilck, en 'n voormalige president Suné Rupping, het Donderdagaand die gesogte Paul Harris-toekenning ontvang.
Die toekenning word aan Rotariërs toegeken wat deur hulle klubs uitgesonder word vir hulle bydraes.
Oudtshoorn Rotariërs is in streek 9350 wat uit 58 klubs bestaan. Die klubs is in die Westelike gedeelte van Suid-Afrika sowel as Namibië en Angola geleë. Rupping is tans die assistent streekgoewerneur verantwoordelik vir Oudtshoorn, George, Mosselbaai, Plettenbergbaai, Knysna en Beaufort-Wes. Die Paul Harris-toekenning is die hoogste toekenning wat 'n klub aan 'n lid kan gee.
Carl-Heinz Duisberg, streekgoewerneur, het die toekennings aan Rupping en Wilck oorhandig. Twee vorige ontvangers van die Paul Harris-toekenning, André van Greunen en Leon Coetzee, was ook by die geleentheid.
Die doel van die toekenning is om mense te vereer vir volgehoue ondersteuning van die Rotariërbeweging en in erkenning vir die bydrae wat hulle maak om verhoudinge tussen mense regoor die wêreld te bou en bevorder.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'