OUDTSHOORN NUUS - 'n Eiendomsagent is vandag in 'n skermutseling beseer kort nadat daar op sosiale media berig is dat Dawie Witbooi, die bekende groentesmous naby Checkers, kennis ontvang het om die spasie te ontruim.
Die skermutseling het plaasgevind tussen Ockie Alberts en 'n persoon wat naby die groentestalletjie gestaan het.
Witbooi het kennis van die munisipaliteit ontvang dat hy nie verder op die hoek waar hy reeds jare lank handel dryf, mag voortgaan nie.
Diè voorval waarin Alberts beseer is, het plaasvind kort nadat dit op sosiale media bekend gemaak is dat Witbooi 'n petisie opgestel het om sy uitsetting te probeer voorkom.
Volgens diè skrywe van die Oudtshoorn-munisipaliteit behoort die spasie waarop Witbooi sake doen, aan privaat eienaars wat beoog om binnekort die gebou op te gradeer.
Die brief versoek Witbooi om aansoek te doen vir 'n alternatiewe plek.
Volgens Alberts se seun, Raymie, is sy pa nie ernstig beseer tydens die voorval nie en het hy slegs 'n paar skrape opgedoen.
"Die persoon het uit die bloute gekom en my Pa gekonfronteer oor Oom Dawie terwyl hy in gesprek was met Lucky, wat die winkel huur. Ek het beeldmateriaal van die voorval. Mense moet onthou dat my pa slegs 'n werker is wat die eienaars van die gebou se wense uitvoer. Nou word hy, 'n man van 70 jaar, getarget. Hy doen net sy werk om te sorg dat die ontwikkeling wel plaasvind soos per instruksies deur die eienaars van die gebou. Ons het begrip vir Oom Dawie se situasie, maar die munisipaliteit moet inspring en sy perseel toeken soos wat belowe is."
Intussen het Witbooi sy misnoë met Oudtshoorn Courant gedeel.
"Waarheen moet ek nou skuif na 30 jaar op diè hoek. Die munisipaliteit wil nou hê ek moet 'n gazebo in die son opslaan op 'n perseel waar besigheid stadig is.
Ek het my vier seuns grootgemaak met hierdie besigheid wat ek al amper 30 jaar op dieselfde plek bedryf."
Ali Khan, familielid van die huurder van die gebou wat ter sprake is, sê dat hulle geen sê in die aangeleentheid het nie, omdat hulle slegs huurders is en moet inval by wat ookal deur die eienaars besluit word.
'n Navraag is aan die Oudtshoorn-munisipaliteit gestuur.
Ockie Alberts. Foto: Verskaf
Ockie Alberts. Foto: Verskaf
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'