CALITZDORP NUUS - Twee wynkelders op Calitzdorp nooi inwoners om deel te neem aan hulle onderskeie groenprojekte.
Calitzdorp-wynkelder
Dié bekende wynkelder het onlangs die inisiatief geneem om 'n nuwe herwinningsprojek op die been te bring. In 'n verklaring wat deur die kelder uitgestuur is sê hulle die kelder het besef dat daar groeiende belangstelling en navraag vanuit die gemeenskap was vir herwinningsdienste, aangesien daar tans geen plaaslike diens beskikbaar is nie.
"Om dié behoefte aan te spreek, het die Calitzdorp-wynkelder nuwe herwinningshokke op hulle sakeperseel opgesit. Enige Calitzdorper word dus aangemoedig om hulle oorskiet plastiek, glas of karton in sakke te verpak, en Dinsdae tussen 08:00 en 12:00 hier af te laai."
"Ons glo dat 'n volhoubare, groen leefstyl, vir almal moontlik is, en dat samewerking die sleutel is tot 'n gesonder klimaat en omgewing vir toekomstige generasies."
Vir verdere inligting oor die Calitzdorp-wynkelder herwinningsprojek, kontak die kantoor by 044 2133 301.
Boplaas familie wingerde
Om by te dra tot 'n groener toekoms het Boplaas onderneem om toe te sien dat 'n miljoen spekbome teen 2025 aangeplant word. 'n Hektaar spekbome kan tussen 4 en 10 ton koolsuurgas per jaar absorbeer en in suurstof omskep.
Boplaas het tans meer as 2 200 hektaar veld onder bewaring waar spekbome reeds natuurlik voorkom. Boplaas wil egter spekboomsteggies beskikbaar stel sodat mense dit oor 'n wyer gebied kan plant.
"As net 'n 1000 mense elk 100 spekbome aanplant is dit reeds 100 000 nuwe bome wat 'n verskil aan aardverwarming kan maak."
Boplaas sal steggies vanaf die plaas in Calitzdorp sowel as hulle proelokaal buite Klein-Brakrivier versprei. Vir meer inligting oor die spekboomprojek, skakel Boplaas by 044 213 3326.
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Klein Karoo nuus'