Dit is woorde wat die publiek gebruik wanneer hulle na die toestand van begraafplase in Oudtshoorn verwys.
In reaksie op telefoonoproepe na die Oudtshoorn Courant en kommentaar op die koerant se webtuiste, is drie begraafplase besoek en met lede van die publiek gesels.
Die prentjie wat ontvou het, is alles behalwe rooskleurig. Dit blyk dat veral die twee ouer begraafplase in Kerk- en Condorstraat aan hul eie lot oorgelaat is en stelselmatig ten gronde gaan.
‘n Groot aantal grafte in dié twee begraafplase, waarvan sommiges uit die 1800’s dateer, is onherstelbaar beskadig deur vandale.
Rommel lê die hele wêreld vol gestrooi en daar is ‘n hele aantal plekke waar mense vuur maak en klaarblyklik slaap.
Inwoners voel onveilig
Inwoners en sakemanne in die omgewing van die Kerkstraat- en Condorstraat-begraafplase is ongelukkig oor die onbeperkte toeloop van haweloses en kwaaddoeners wat die begraafplase gebruik as toilette, slaapplek en konkelplek.
‘n Bejaarde inwoner naby die Condor-straat begraafplaas het ‘n groep mense aan die Oudtshoorn Courant uitgewys wat gereeld vullissakke in die buurt bymekaarmaak en dan naby die begraafplaas uitgooi en deursnuffel vir kos of materiaal wat weer verkoop kan word. Die gebied lyk tans soos ‘n rommelhoop en daar word gereeld vuur gemaak om plastiekomhulsels van staal- en koperdrade af te brand. Sy noem ook dat sy dikwels, veral oor naweke, groepe jong mense sien wat in die begraafplaas vergader en vermoedelik dagga rook en drink.
Nog inwoners in die omgewing is bekommerd oor voertuie wat by die begraafplaas stilhou en goedere op- en aflaai. Dit blyk dat die begraafplaas ‘n ontmoetingsplek is vir partye wat met onwettighede besig is. Volgens ‘n inwoner wat gesien het hoe ‘n bakkie gebruik word om ysterhekke voor die begraafplaas af te ruk, het haar oproep aan die munisipaliteit geen reaksie uitgelok nie.
Geskiedkundige grafte
Grafte in die klein begraafplasie in Kerkstraat dateer uit die 19e eeu en het geskiedkundige waarde, maar is baie verniel en omring deur rommel. Aan die agterkant van die begraafplaas het ‘n muur, wat die begraafplaas van munisipale store skei, omgeval. ‘n Nuwe muur is opgerig, maar die rommel van die stukkende muur is net so tussen die grafte gelaat.
Munisipaliteit onderneem optrede
Die Oudtshoorn Courant het die toestand van en aktiwiteite by die begraafplase onder die aandag van die munisipaliteit gebring en gevra dat hulle daarop reageer.
Met ‘n besoek aan een van die begraafplase op Dinsdag, 20 September, het inwoners aangedui dat werkers begin het om die area skoon te maak.
Die munisipaliteit het telefonies bevestig dat hulle besig is met ‘n daadwerklike poging om al die begraafplase op te ruim en die rommel te verwyder. Hulle kon egter nie in hierdie stadium sê of daar enigsins iets beplan word om ongewenste besoekers uit te hou nie.
‘n Rondloper kat langs ‘n vernielde graf wat uit 1889 dateer, in die Kerkstraat-begraafplaas.
ARTIKEL EN FOTO'S: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS