Dit is ook nie meer net versteekte kameras waarmee jy 'n maand na die oortreding 'n verrassing in die pos verdien nie; een van die spoedmeters wat gebruik word registreer die spoed van aankomende en verbygaande voertuie en boetes word op die toneel uitgereik.
Terwyl die amptenare die boetes uitreik word die voertuig ook sommer van voor tot agter deurgekyk vir foute, padwaardigheid en lisensies.
Dit blyk dat die verkeersafdelings hulle ondernemings om by die W.A.R against reckless driving-projek betrokke te raak gestand doen.
Volgens kaptein Louis Visser, woordvoerder van Oudtshoorn Polisie, het die teenwoordigheid van beamptes verlede week op straat beslis `n positiewe uitwerking gehad. "Verlede week en oor die naweek was verkeersbeamptes in verskeie strate besig met roetine ondersoeke.
"Daar was verskeie padblokkades in en om die dorp gedoen en twee persone is Sondag-aand om 19:30 en Maandagaand om 20:40 vir dronkbestuur gearresteer. Ons het ook oor die naweek die dorp se hoofpaaie met blou ligte gepatrolleer om meer sigbaar te wees."
Verlede naweek was daar slegs vier geringe botsings, almal gedurende die dag tussen 12:00 en 15:30. Van 18 tot 25 Augustus was daar `n totaal van 22 botsings.
Gerald Becker, provinsiale verkeershoof, het gesê dat 85 boetes uitgereik is sedert verlede Donderdag. Volgens Becker is 10 operasies in en om die dorp onderneem waar 1329 voertuie en bestuurders vir geskiktheid ondersoek is.
Die wetstoepassers is ook sedert verlede week baie sigbaar en doen saans tot 22:00 in die dorp diens. Verder het verskeie inwoners foto's van voertuie wat op parkeerplekke vir gestremdes en vir motorfietse parkeer aan die Oudtshoorn Courant gestuur en daar is ook voorvalle van roekelose bestuur aangemeld wat aan die verkeersdepartement deurgegee is.
Beide verkeershoofde het die publiek genooi om gevaarlike oortredings en roekelose gedrag onder hul aandag te bring.
Lesers kan dit doen deur die verkeersdepartemente direk te skakel, maar 'n makliker opsie is om die inligting direk aan die Oudtshoorn Courant te stuur.
Indien u 'n voorval wil aanmeld kan u, u naam, die tyd en plek van die voorval, die motor se regsitrasienommer, die tipe voertuig en 'n kort verduideliking van die oortreding aan ons stuur by jacques@groupeditors.co.za, liezl@groupeditors.co.za, hannes@groupeditors.co.za of dit by enige van die drie telefonies aanmeld.
Dit kan ook per sms by 083 467 1522 aangemeld word. Die inligting sal op 'n weeklikse basis aan die onderskeie verkeersowerhede deurgstuur word. Hulle het onderneem om die eie-naars van die voertuie te kontak en te waarsku dat hulle registrasienommer aangemeld is.

Twee motors is die week afgeneem wat wederegtelik op motorfietsparkeerplekke parkeer en een wat op 'n parkeerplek vir gestremdes parkeer.

Verkeersmanne is oral sigbaar.

Op hulle pos
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'