OUDTSHOORN NUUS - Jolin is Dinsdagaand in die Mosselbaai-hospitaal dood nadat hy Sondag siek geraak het.
Die skoolhoof, Stephanus Potgieter, moes Woensdagoggend tydens 'n saalbyeenkoms die nuus van Jolin se dood aan die leerders oordra.
Volgens Jolin se pa, Christiaan van Zyl, het hy Jolin Vrydagmiddag by die skool opgetel om vir die naweek tuis in Mosselbaai te kuier. "Hy het Vrydag en Saterdag niks makeer nie. Sondagoggend het hy begin siek raak, vermoedelik weens griep."
Van Zyl vertel hy het besluit om Jolin Maandag uit die skool te hou. "Dinsdag het my seun net sieker geraak en teen vyfuur was hy bleek en dodelik siek."
Jolin is in die hospitaal behandel, waar die dokter besluit het hy gaan hom na intensiewe sorg in die George-hospitaal oorplaas. Van Zyl vertel hy het omstreeks 20:30 nog met Jolin gepraat. "Van sy laaste woorde aan my was, 'pappa, wanneer gaan ons huis toe?'."
"Ek het hom meegedeel dat hy oorgeplaas gaan word George toe. Kort na die gesprek met Jolin het ek solank vooruit gery George toe om vir die ambulans te wag. Ek was nog op pad toe ek 'n oproep van die Mosselbaai-hospitaal ontvang en meegedeel is Jolin se hart het gaan staan."
Potgieter het Jolin se dood as tragies beskryf en gesê dis 'n moeilike situasie vir enige skoolhoof om te hanteer.
Jolin was 'n kranige gimnas, krieket-, rugby- en hokkiespeler. Hy het op laerskool SWD as gimnas verteenwoordig.
Hy word oorleef deur sy pa, sy ma, Hester en suster, Christan (17).
Die begrafnis vind Saterdag 19 Augustus om 11:00 vanuit die AGS kerk De Nova, Mosselbaai, plaas.
ARTIKEL: CHRISTO VERMAAK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Karoo nuus'