OUDTSHOORN NUUS - Op die laaste dag van die 16 dae van aktivisme teen geslagsgebaseerde misdaad-veldtog het South African Faith and Family Institute (SAFFI) 'n praatjie in Oudtshoorn aangebied.
Die veldtog het vanjaar vanaf 25 November tot 10 Desember plaasgevind.
Volgens Patrick Sambo, die organiseerder van die praatjie en lid van SAFFI, het hulle meer op geweld teenoor gay mense gefokus.
"Mense fokus soms net op vroue en kinders en vergeet dat 'n groot deel van die geweld ook teenoor mense is wat dieselfde geslag verhoudings verkies," het hy verduidelik.
Volgens hom gaan hulle in die toekoms probeer om meer sulke praatjies te reël sodat mense 'n beter begrip oor die onderwerp kan hê.
Volgens hom is daar nie baie statistiek oor geweld in verhoudings van dieselfde geslag nie, maar is daar 'n aanduiding dat die geweld meer van toeskouers af kom.
"Mense word geboelie oor hul seksuele oriëntasie en dit is verkeerd.
"Die mense moet verstaan dat hulle nie daarmee hoef saam te stem nie, maar dat dit totaal onaanvaarbaar is om iemand oor hul seksuele oriëntasie te boelie."
Volgens hom was daar vanjaar meer as 800 aansoeke vir beskermingsbevele by die hof ingedien.
"Gesinsgeweld is iets wat toeneem en mense is soms bang om daaroor te praat.
"Ons organisasie probeer mense in sulke omstandighede help, maar ons probeer ook die gemeenskap inlig oor gesinsgeweld en dat dit nie aanvaarbaar is nie."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'