Gallery Update
OUDTSHOORN NUUS - 'n Gesin van 10 het verlede Sondag al hul besittings in 'n brand verloor.
Die brand het in hul opslaanhut in Lelieweg onderkant Bergsig Primêr om ongeveer 17:10 ontstaan waarna dit na die hoofhuis op die erf versprei het.
Die brand het veral groot skade aan die hoofhuis se kombuis en sitkamer aangerig. Die opslaanhut het tot op die grond afgebrand.
FOTOGALERY: Gesin verloor als in brand
Volgens een van die bewoners van die opslaanhut, Moveen de Laan, het een van haar familielede die brand in die opslaanhut glo met opset gestig.
"Dis die tweede keer dat ons woning aspris aan die brand gesteek word en ons is ook gister gedreig dat ons uitgebrand gaan word. Hoe begin 'n mens elke keer oor? Ons het letterlik alles wat ons besit met klere en al in die brand verloor," het 'n emosionele De Laan aan Oudtshoorn Courant vertel.
Volgens De Laan het die verdagte onmiddellik na die brandstigting wegge-hardloop. Gleneaze Rabie, wat in die hoofhuis woon, vertel dat sy besig was om kos te maak toe sy deur die venster die vlamme by die opslaanhut sien.
"Een, twee, drie toe ek weer sien het die gordyne in die kombuis vlamgevat. Die brand het so vinnig versprei dat ek net kon skree dit brand, so erg was die vlamme."
Rabie sê dat die vlamme in hul kombuis twee yskaste, stoof, vrieskas, kombuiskaste, brand, eetware sowel as die elektriese toestelle verswelg het. In die sitkamer is die plafon en mure deur die rook beskadig.
Die Oudtshoorn-brandweer was volgens omstanders blitsvinnig op die toneel, wat verhoed het dat die hoofhuis verdere skade opdoen. Niemand is tydens die brand beseer nie.
Die liefdadigheidsgroep, Sport Buddy Charity, het onderneem om die gesin met kos en klere by te staan.
Oudtshoorn-brandweer besig om die brand te blus.
Die brand in die hoofhuis het die kombuiskaste sowel as die elektriese toestelle erg beskadig.
Vorige artikel: Gesin verloor als in brand: Hoofhuis erg beskadig
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'