OUDTSHOORN NUUS - “Ons almal is gelyk voor die wet, ongeag ons posisie in die samelewing.” So het die bekende voormalige advokaat van die Nasionale Vervolging Gesag, Gerrie Nel, verlede Donderdagaand by Laerskool Laurus gesê.
Nel wat ook bekend staan as die “Bulldog” vanweë sy vasbeslotenheid in die hof, het bekendheid verwerf toe hy destyds Jackie Selebi (polisiekommissaris) suksesvol op aanklagte van korrupsie vervolg het.
Hy het intussen by die burgerregte-groep AfriForum se privaat vervolgingseenheid aangesluit. “Ek wou graag op ‘n plek kom waar ek my vaardighede kon gebruik om geregtigheid te laat geskied."
”Tans verwoes selektiewe vervolging mense se lewens, en juis daarom speel AfriForum 'n leidende rol in die gemeenskap om te verseker dat almal gelyk voor ons grondwet behandel word," het hy gesê.
Nel het verduidelik dat dit 'n tendens by die Nasionale Vervolging Gesag geword het om te vervolg wie hulle wil.
Volgens Nel het AfriForum hom verbind om enige sake op meriete te evalueer, en dan aansoek te doen om te vervolg indien daar voldoende bewyse is.
"Suid-Afrika was op 'n stadium die mees toonaangewende land wat integriteit betref. "Gierigheid en magsmisbruik het egter in die laaste ruk ons aandele in dié verband geweldig geknou.’’
Nel het tydens sy toespraak beklemtoon dat helde in die samelewing vereer moet word; veral diegene wat dit nie doen om gesien te word nie.
Vroeër dié dag het Nel ook by CP Nel Motors ‘n onderhoud met die plaaslike radiostasie, Heartbeat FM gevoer.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'