OUDTSHOORN NUUS - 'n Geleentheid wat aan inwoners voorgehou is as 'n praatjie oor veiligheid in Suid-Afrika deur twee "veiligheidskenners", was eintlik 'n werwingsgeleentheid van die Suidlanders.
Volgens 'n WhatsApp-boodskap wat onder andere deur 'n buurtwaggroep versprei is, sou die praatjie, "Hoe veilig is jy in Suid-Afrika?" deur die bekende oudsoldaat en krygsgevangene in Angola, kol. Wynand du Toit, en Gustav Muller aangebied word.
Die geleentheid is Dinsdagaand by die Turnberry Lodge-boetiekhotel aangebied. Ongeveer 50 mense het die aand bygewoon.
Nadat Du Toit afgeskop het met 'n motiverings-praatjie oor sy destydse aanhouding in Angola, is die Suidlanders se naam vir die eerste keer genoem en het dit duidelik geword dat die geleentheid ten doel het om lede vir die organisasie te werf.
Die Suidlanders is 'n Afrikaanse-groep wat voorspel dat 'n grootskaalse rewolusie en totale anargie in Suid-Afrika onafwendbaar is, en dat blankes hulle moet voorberei daarop. Die Suidlanders het 'n uitgebreide noodplan vir hulle lede wat gevolg sal word indien 'n rewolusie uitbreek en die land se infrastruktuur in duie stort. Die groep steun grootliks op die visioene van Siener van Rensburg en ander boere-profete soos Johanna Brand asook profete uit die Ou Testament.
Die doel van die byeenkoms het beslag gekry in die tweede helfte van die program toe die leier van die Suidlanders, Gustav Muller, vir bykans twee ure oor verskillende profesieë gepraat het en telkens verwys het na die dag dat blanke Christene wat na Europa uitgewyk het, na Suid-Afrika sal terugkeer en die Vierkleur weer onder 'n nuwe (blanke) bestel sal wapper. Die Vierkleur verwys na die rooi, wit, blou en groen Transvaalse Vierkleur wat die amptelike vlag van die Zuid-Afrikaansche Republiek was vanaf 1858 tot 1902. Hy het gewaarsku teen die sogenaamde "doringbos-regering" wat ten doel het om die huidige ANC-regering tot 'n val te bring sodat hulle met hulle rykdom die land kan oorneem. Uit inligting oor die Suidlanders blyk dit dat die doringbos-regering volgens hulle aangevoer word deur die hoofstroom-media en organisasies soos onder andere AfriForum, Solidariteit, die Afrikanerbond en die kerk.
Vrae oor doel van vergadering
Van die mense wat die geleentheid bygewoon het, het egter ongemaklik geraak toe Muller daarop wys dat die feit dat mense 'n "Suidlander-vergadering" bywoon, in hulle guns sal tel as hulle vir hulp aanklop op die dag dat anargie uitbreek.
Op 'n vraag van die Oudtshoorn Courant waarom die geleentheid nie as 'n Suidlander-inligtingsessie geadverteer is nie (Die naam Suidlander, word nêrens in die uitnodiging genoem nie), het Muller nie 'n direkte antwoord gegee nie. 'n Ander lid van die Suidlanders het gesê die uitnodiging is aan mense op hulle databasis gestuur wat almal weet dat dit 'n Suidlander inisiatief is.
Na afloop van die vergadering het twee persone die Oudtshoorn Courant genader en gesê hulle was nie bewus van die aard van die geleentheid nie en voel dat die uitnodiging misleidend was.
Vier ander persone het Woensdag te kenne gegee dat hulle die praatjie bygewoon het omdat hulle onder die indruk was dat dit oor veiligheids-kwessies en praktiese oplossings sou handel en glad nie geweet het die Suidlanders is betrokke nie. "Ek dink dat daar bitter min mense sou wees as dit as 'n Suidlander-vergadering geadverteer was," het een van die persone gesê.
Die admin-persoon van die buurtwag-groep waarop die boodskap onder andere versprei is, het Woensdag gesê sy het 'n versoek gekry om 'n boodskap wat oor veiligheidskwessies handel, te versprei.
"Ek was nie bewus dat dit 'n Suidlander-vergadering sou wees nie." Die kontakpersoon op die advertensie, Riaan, het Woensdag telefonies gesê hy is jammer as daar 'n misverstand was, maar dat daar nie 'n spesifieke rede was waarom die vergadering nie as 'n Suidlander-geleentheid geadverteer is nie.
Kol. Wynand du Toit, oudsoldaat en motiveringspreker aan die woord.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'