Die verdagte se arrestasie, verlede Sondag om 20:15 by `n huis in Bridgton, volg na die ontdekking van `n vrou se lyk. Leilani Murphy (27) is om 09:00 in die wrak van `n Volkswagen Golf gevind wat buite `n huis in Bridgton gestaan het. Murphy se lyk was halfnaak en draad is om haar nek gedraai.
`n Lykskouing is Woensdag op die oorledene gedoen. `n Gedenkdiens word Saterdagoggend 10 uur by die Murphy's se huis gehou en 11 uur word sy vanuit die Verenigde Gereformeerde Kerk in Bridgton begrawe.
Volgens die oorledene se pa, Clifton Murphy, het hy sy dogter die voorafgaande Vrydag vir die laaste keer gesien. Leilani het gevra dat haar pa `n boodskap aan haar kêrel oordra om haar by `n nagklub te ontmoet. "Hy kon nie gaan nie as gevolg van werk. Ons het aanvaar sy is veilig," het Murphy vertel. "Toe sy nie Saterdag huistoe kom nie, het ons begin bekommerd raak. Maar sy was altyd so versigtig en verantwoordelik." Murphy vertel dat polisie hom Sondagmiddag kom meedeel het dat sy dogter se lyk gevind is. "Ek moes haar in die lykshuis gaan uitken, die wonde op haar gesig en lyf... Toesie was `n liefdevolle mens wat niemand sou seermaak nie."
Intussen het die burgemeester van Oudtshoorn, Gordon April, ook sy medelye met die gesin uitgespreek. "Ons is diep getref deur die ontydige afsterwe van Leilani Murphy en wil graag ons meegevoel uitspreek met die Murphy gesin. Ons vertrou verder dat die gereg sy verloop sal neem en dat die skuldiges ooreenkomstig gestraf sal word," het April gesê.
`n Senior polisielid het Woensdag buite die hof aangedui dat die verdagte wel tydens ondervraging teenoor ondersoekbeamptes skuld erken het. Dit kon egter nie deur Oudtshoorn se polisiewoordvoerder bevestig word nie.
• In `n onverwante voorval is polisie op soek na twee verdagtes nadat 'n 25-jarige vrou op 2 Junie by die Bridgton-sportterrein verkrag is. Twee onbekende mans het die vrou na bewering buite op die toilette se stoep verkrag. Die verkragting het tussen 17:00 en 18:00 plaasgevind. Enige persoon met inligting oor die voorval kan vir konst. Joy Kammies skakel by 044 203 7500.
_474706241_tn.jpg)
Die huis in Springboklaan, Bridgton, waar die liggaam van Leilani Murphy (inlas) gevind is. Foto: Jacques Swart
ARTIKEL: JACQUES SWART en LEON CAMPHER