OUDTSHOORN NUUS - Twee dae voor haar 40ste verjaarsdag moes Cathy Lingerveldt, 'n geliefde inwoner van Oudtshoorn, se familie haar groet.
Haar ma, Maria Lingerveldt, vertel dat hulle steeds sukkel om die skok te verwerk dat haar blakend gesonde dogter die afgelope naweek skielik aan vermoedelik 'n beroerte oorlede is.
Cathy was die ma van twee kinders, Cayden (10) en Anastacia (8).
Volgens Lingerveldt het Cathy Saterdag by haar vriend van drie jaar, William Deyce, se werk opgedaag terwyl sy in die dorp was.
"Sy het van hoofpyn gekla en het flou geword."
Cathy is van die Oudtshoorn-hospitaal na George-hospitaal oorgeplaas waar hulle bevestig het dat daar bloeding op haar brein is.
"Sy was eintlik breindood volgens die dokter, maar toe ek by haar kom en aan haar hand vat het sy gereageer. Sy het geweet ons is daar voor sy dood is. Dit beskou ons as 'n wonderwerk."
Deyce sê haar groot liefde was om kos te maak.
Cathy Lingerveldt
"Sy het die afgelope 20 jaar by verskeie restaurante kos gemaak. Dit was haar passie. Sy het ook vir verskeie familielede se troues kos gemaak sonder vergoeding. Sy kon vinnig 'n menu aanmekaarsit vir enige geleentheid. Haar hande het nooit stilgestaan nie en sy was 'n hardwerkende mens wat vir haar ma en kinders gewerk het."
Teen druktyd was haar begrafnisreëlings nog nie bekend nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’