Update
OUDTSHOORN NUUS - Seppie Ekstraal, een van Oudtshoorn se bekende rugbyfigure, is verlede Vrydag na 'n kort siekbed oorlede.
Ekstraal was ten tyde van sy dood die afrigter van Collegians-rugbyklub se A-span.
Marius Mei, kassier van Collegians-rugbyklub, het Ekstraal se dood as 'n verlies vir die klub beskryf.
"Oom Seppie het vier jaar gelede by ons klub aangesluit nadat hy ook voorheen plaaslike rugbyspanne soos Bridgton en All Blacks afgerig het. Hy het ook as rugbyspeler vir Evergreens, George, All Blacks en Oudtshoorn uitgedraf. Sy sterkpunte was dat hy 'n goeie 'man manager' was en dit is ook een van die grootste redes hoekom die spelers hom dikwels in hul vertroue geneem het. Met die Facebook-boodskappe is dit duidelik dat die spelers groot agting en respek vir hom as mens en afrigter gehad het.
"Op 'n tegniese vlak was sy filosofie altyd om tred te hou met moderne rugbypatrone, taktieke en oefenmetodes. Dan sou ek en hy dikwels bespreek hoe dit geïmplementeer kan word binne die strukture van Collegians en watter spelers daarby kan baat.
Ons sal hom onthou as 'n baanbreker; 'n rugbyman in murg en been," het gesê.
Voor nasionale inperking ingetree het, het Ekstraal se span hul eweknie van Spring Roses-rugbyklub in hul laaste SWD Super-B-liga-wedstryd met 23-19 geklop.
Daar sal Donderdag 'n gedenkdiens by die Ekstraal-woning plaasvind. Die begrafnis vind Saterdag 09:00 by die huis en 10:00 by die Bridgton Verenigde Gereformeerde Kerk plaas.
Vorige artikel: Afrigter van Collegians-rugbyklub sterf
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'