PRINS ALBERT NUUS - Geen boorgate mag hier in die dorpsgebied en groter omgewing gesink word sonder 'n behoorlike waterimpakstudie wat aan die munisipaliteit voorgelê moet word nie.
So sê die munisipale bestuurder, Anneleen Vorster, by navraag oor die neiging onder al hoe meer eienaars van woonerwe om vir tuinwater in dié droogtegeteisterde gebied te boor.
Hoewel daar in Februarie en Maart onderskeidelik sowat 40 en 20 mm reën geval het, wat 'n verbetering is op die reënval in die ooreenstemmende tyd verlede jaar, is die droogte nog nie gebreek nie.
"Alvorens 'n boorgat gesink kan word, móét 'n waterimpakstudie aan die plaaslike owerheid voorsien word wat deur 'n geregistreerde geohidroloog opgestel is. Dit moet die uitwerking op reeds bestaande boorgate aandui. Boorgate moet gemeter en duidelik gemerk wees. Meterlesings moet op versoek van die munisipaliteit verskaf word."
Prof. Sue Dean, botanikus en natuurkundige van Renu-Karoo Veld Restoration en die Wolwekraal bewarings-en navorsingsorganisasie buite Prins Albert, sê die droogte in die Sentraal-Karoo en Klein-Karoo is waarskynlik die ergste in die geskiedenis weens die kombinasie van lae reënval en hoë temperature in die somermaande. "Die vooruitsigte is steeds nie goed nie, omdat ons droogteprobleme as deel van 'n wêreldwye verskynsel gesien moet word."
Prins Albert se gemiddelde jaarlikse reënval in normale jare is sowat 175 mm. Dit het egter in die laaste jare bykans gehalveer. Boorgate "myn" dus eintlik net die water van die jongste reënval, omdat dit onwaarskynlik is dat enige reën die grondwatertafel bereik, sê sy. "Boorgate is dus nie in die middel- of langtermyn volhoubaar nie."
Dié munisipaliteit waarsku inwoners herhaaldelik dat die dorp se watervlakke steeds laag is. Hoewel inwoners beperk word tot 90 liter per dag, is die daaglikse verbruik per persoon nader aan 300 liter, volgens 'n kennisgewing van die munisipaliteit.
Desondanks het die toeristebedryf, wat die opening van nuwe gastehuise insluit, en selfs die eiendomsmark in die grendeltyd die afgelope jaar 'n oplewing getoon.
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Klein Karoo nuus'