Gallery Update Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Twee weke na die familie van Josh Pharaoh, die 9-jarige seun wat verlede jaar tydens die KKNK by die weermag se uitstalling ernstig beseer is en twee dae later gesterf het, 'n optog na die weermag se uitstalling by vanjaar se KKNK gehou het, het hulle steeds geen terugvoering ontvang nie.
Hamilton Pharaoh, Josh se oupa, het die week aan die Oudtshoorn Courant gesê, die familie moet afsluiting oor hul kind se dood kry en al hoe hulle dit gaan doen is as hulle weet wat werklik gebeur het.
Volgens hom wil die weermag na bewering nie forensiese deskundiges naby 'n soortgelyke voertuig toelaat sodat hulle die ondersoek kan voltooi nie.
Pharaoh, het in die memorandum, wat hy tydens die optog aan die begin van die KKNK uitgelees het, gesê al wat die familie soek is geregtigheid na Josh se dood.
"Toe ons kind verlede jaar gesterf het, het mense hom soos 'n ongemanierde, stout kind laat klink. Ons as familie wil dit duidelik stel dat Josh 'n gehoorsame kind was en nooit op sy eie in daardie voertuig sou klim nie. Ons wil dit duidelik stel dat daar 'n weermagoffisier by Josh was tydens die voorval."
Pharaoh het verder gesê dat die feit dat die uitstalling steeds voortgaan vir die familie disrespekvol is.
"Die weermag het dit vir die polisie moeilik gemaak om die ondersoek te voltooi en ons het nog geen duidelikheid oor wat presies Josh se dood veroorsaak het nie.
"Die feit dat hulle die uitstalling die jaar weer hou laat ons voel asof die weermag geen gevoel vir ons familie se verlies het nie."
Pharaoh het gesê hy hoop nie dat enige familie ooit deur dieselfde trauma moet gaan as wat hulle het nie. Oudtshoorn se burgemeester, Colan Sylvester, was by tydens die voorlees van die memorandum.
Kyk 'n video hieronder:
Die familie het vanaf die CP Nel-museum na die weermag se uitstalling gegaan om 'n gebed te doen, maar die weermag het die uitstalling tydelik gesluit om te verhoed dat die familie op die terrein kom.
Hulle het voor die hek byeengekom om 'n gebed te doen.
Familie bid by die weermaguitstalling tydens die KKNK. Foto: Liezl van Niekerk
Josh Pharaoh se ma, Nicole Cederas en pa, Ryno. Foto: Hannes Visser
Lees 'n vorige artikel: Familie hou optog vir Josh
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'