OUDTSHOORN NUUS - Roerende huldeblyke is Dinsdag in die Volkskerk van Afrika gelewer tydens 'n gedenkdiens vir die ontslape dr. David Piedt (80) wat aan Covid-19 oorlede is. Piedt is verlede Vrydag veras.
Stephan Sass het namens die Civil Servants Pension Redress Movement (CSPRM) hulde gebring en gesê dat Piedt die beste vir laaste gehou het toe hy die vereniging gestig het om voorheen benadeelde staatsamptenare te probeer help.
Piedt se dogter, Tracey Volcke, wat Vrydag vanaf België in Suid-Afrika aangekom het, het gesê dat sy haar pa sal onthou vir sy liefde vir God.
"Dankie pa dat jy ons geleer het om hard te werk en te staan waarin jy glo. Ek is wat ek is danksy jou."
Volgens haar het haar pa haar ook gevra om 'n aanwins vir haar nuwe familie te wees toe sy getrou het.
"Ek is baie trots op die lewenslesse wat my pa my geleer het."
Jonathan Wicomb het namens die Volkskerk vir Piedt bedank vir sy onuitwisbare nalatenskap. "David was baie lief vir sy kerk en het 'n groot bydrae tot die kerk se vooruitgang gelewer sonder om erkenning daarvoor te vra."
"Ons gemeentevergaderings sal nooit weer dieselfde wees nie. Wanneer David gepraat het, het almal geluister. Hy was 'n formidabele mens. 'n Groot seder het in Oudtshoorn, die Suid-Kaap en Suid-Afrika geval."
Dr. Franklin Sonn het in sy huldeblyk 'n beroep op die aanwesiges en almal wat die diens digitaal gevolg het, gedoen om Piedt se respek vir sy medemens as 'n monument te laat voortleef.
Hy het Piedt namens die eertydse Kaaplandse Professionele Onderwysersunie (KPO) vir sy menswaardigheid en om gelyk geag te word, bedank.
Ds. Lionel Louw het sy boodskap na aanleiding van die riglyne uit Miga gebring, naamlik om reg te laat geskied, liefde en trou te bewys en nederig en bedagsaam met God om te gaan.
"Dit is wat David gedoen het. Hy het die lewenswaardes van Jesus as syne geneem. Die onsigbare virus het ons beroof van 'n man wat sy lewe vir geregtigheid gegee het."
Die stoflike oorskot van dr. David Piedt word deur sy seun, Deon, uit die kerk gedra. Langs hom is Piedt se vrou, Marjorie, en agter haar dogter, Tracey.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'