OUDTSHOORN NUUS - Twee organisasies en mense van verskillende kerke het verlede week by twee afsondelike geleenthede hulle dank teenoor gesondheidswerkers betuig en ook in gebed by hospitale saamgekom.
Die Oudtshoorn Taxivereniging en die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het die Oudtshoorn provinsiale hospitaal besoek om dankie te sê aan die dokters, verpleegpersoneel en alle gesondheidswerkers wat daagliks hul lewens op die spel plaas met die behandeling van Covid-19-pasiënte.
Die taxi-eienaars het op ‘n spesiale roete vanaf die taxistaanplek in die middedorp na die hospitaal gery waar ‘n gebedsessie voor die ongevalle-eenheid gehou is. Les Meiring van die taxivereniging het gesê 2020 was ’n moeilike jaar vir almal, maar soveel meer vir gesondheidswerkers in hospitale en klinieke.
Phillip Seroux van die GPF het ‘n beroep op die gemeenskap gedoen om ook te bid vir gesondheidswerkers wat ook families het waarheen hulle na elke skof moet terugkeer te midde van erge traumatiese stres en onsekerheid.
Ongeveer 50 gelowiges van verskillende kerke het verlede Dinsdag ook die Oudtshoorn-hospitaal en Mediclinic Klein Karoo besoek.
"Ek het reageer op 'n stempos waar die versoek gerig is om vir gesondheidswerkers te bid en het lede van die gemeenskap saamgenooi," het Lydia Bothma van die AGS Klein-Karoo gesê.
Volgens haar het 'n groep van ongeveer 50 mense buite die twee hospitale byeengekom om vir die personeel te bid. Sy sê dat soortgelyke byeenkomste weer gehou sal word, afhangende van wat deur Covid-19-beperkingsmaatreëls toegelaat sal word.
Lede van die Oudtshoorn Taxivereniging en GPF voor die Oudtshoorn-hospitaal.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'