OUDTSHOORN NUUS - Philip la Grange (45), lid van die Oudtshoorn-fietsryklub, het Sondagoggend tydens 'n fietsrit in 'n fratsongeluk gesterf. La Grange het in Beaufort-Wes gewoon en was vir jare 'n bekende en geliefde fietsryer in Oudtshoorn-fietsrykringe. Omdat Beaufort-Wes nie oor 'n fietsryklub beskik nie, het La Grange by Oudtshoorn-fietsryklub aangesluit.
Volgens Corné Nel, boesemvriend van La Grange, was hulle vier vriende wat Sondagoggend die De Jagerspas in Beaufort-Wes met hul fietse aangedurf het.
"Die plan was om so 80 km met ons fietse op dié grondpad af te lê. Alles het aanvanklik goed verloop totdat Philip by die laaste draai beheer verloor en in 'n sloot met groot klippe beland het. Hy moes sy kop daarteen gestamp het."
Nel vertel dat hy 'n paar meter agter La Grange gery het toe die ongeluk gebeur het. Ek het hom onmiddellik te hulp gesnel. Hy was bewusteloos en ek het die berg opgehardloop om 'n selfoonsein te kry om die naaste boere in die omgewing te bel. Jagters wat in die omgewing was, was eerste op die toneel en daar was 'n dokter onder hulle wat Philip gestabiliseer het."
Nel sê as gevolg van die afstand na die toneel het die ambulans na sowat 'n uur opgedaag en met hul aankoms kunsmatige asemhaling op La Grange toegepas. Volgens Nel kon die paramedici La Grange nie bybring nie en is hy op die toneel dood verklaar.
Philip la Grange na voltooing van een van die vele wedrenne waaraan hy deelgeneem het. Foto verskaf
"Hy was voorwaar die sout van die aarde. 'n Mense mens uit en uit. Ek gaan hom verskriklik mis," het 'n emosionele Nel aan die Oudtshoorn Courant gesê.
Volgens Die Courier van Beaufort-Wes was Niel Nel ook in die fietsrygroep.
Volgens Niel was hy 'n paar minute agter Corné en Philip en het op 'n skerp draai op die ongeluk afgekom.
"Ten spyte van die feit dat Philip een van die beste tegniese fietsryers was en gewoonlik met presisie sulke uitdagings na kinderspeletjies laat lyk het, is wind altyd 'n uitdaging wat nooit buite rekening gelaat moet word nie.
"Philip is nie by die kranse af soos wat baie mense dink nie. 'n Rukwind het hom heel moontlik van sy gewone lyn af geforseer en terug gedruk teen die kant van die pad waar daar baie dik sand en groot en skerp klippe was. Dit was 'n baie slegte val."
Omdat daar geen selfoonsein was nie het Nel verder in die rigting van die dorp gery. "Op daardie stadium was Philip bewusteloos, maar hy het nog asem gehaal.
"Net voor De Hoop het ek daarin geslaag om vir Colin de Villiers van Badshoek in die hande te kry. Drie voertuie van De Hoop en Badshoek is onmiddellik na die ongelukstoneel, onder andere drie jagters waarvan een 'n mediese dokter was," het hy vertel.
Philip la Grange. Foto verskaf
Hy sê die dokter het onmiddellik aandag aan La Grange gegee, wat ernstige kop- en nekbeserings opgedoen het, maar sy lewe kon nie gered word nie.
Corné Bence, voorsitter van Eden- en Wes-Kaap-fietsry het gesê die nuus oor die ongeluk was vir almal 'n groot skok en 'n verlies vir die fietrygemeenskap.. "Vanweë sy persoonlikheid en hulpvaardigheid tydens fietsrytoernooie was La Grange baie gewild onder die fietsryers."
Volgens Corné Nel beoog die familie om die begrafnis hierdie naweek reeds af te handel indien hulle daarin kan slaag om al die voorgeskrewe Covid-19-maatreëls in plek te kry.
Hy laat sy vrou, Lynette, dogters Lana en Lisa en sy ouers Stoffel en Sophia la Grange, agter.
Vorige artikel: Lid van Oudtshoorn-fietsryklub sterf in fratsongeluk
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'