OUDTSHOORN NUUS - As mens in die Hantam-Karoo boer leef jy na aan die natuur met jou hoed op jou kop, jou voete stewig op die grond en jou ore en oë wawyd oop vir die Karoo se lewenswyshede.
Stewie Theron is meer as 70 jaar gelede in die Karoo gebore en het na jare se gedagtes en stories neerskryf verlede week twee bundels met onderskeidelik gedigte en kortverhale bekendgestel.
Hy vertel dat die digbundel Sotskap by verre nie al die gedigte bevat wat hy al geskryf het nie.
"Ek skryf reeds jare en daar is nog 'n hele klomp wat ek graag in bundels wil plaas."
Hy voeg by dat hy nie reeds jare aan sy gedigte en verhale werk omdat hy stadig skryf nie.
"Ek skryf wanneer ek tyd kry, want boer is 'n voltydse werk van vroeg soggens tot laat saans."
Die gedigte in Sotskap laat die leser reflekteer oor waarheen die mens op pad is en hoe dikwels of hoe weinig mense dinge bevraagteken.
Oor Jan Maerman en ander verhale, die bundel met vertellings by monde van Oeroupa, sê Theron hy wou die tradisionele verhale wat deur die jare oorvertel word in 'n boek sit voordat hulle uitsterf.
"Stories soos die pofadder wat sy eie stert vasbyt om 'n wawiel te vorm om vinniger as 'n galoppende perd agter sy slagoffer aan te rol en die storie dat bloukopkoggelmanders dodelik giftig is, is ou stories van ander wêrelddele wat deur die jare aangepas is om egte Karoostories te word, en ek wil hulle bewaar."
Behalwe vir vernuftige pofadders en giftige koggelmanders bevat die bundel ook stories oor 'n bobbejaan op 'n hollende boerbok se rug, 'n spookstorie oor 'n trourok, 'n vrou wat glo haar bene is van glas gemaak en dan natuurlik die grilstorie van Jan Maerman se spook wat ledemaat-vir-ledemaat in die skoorsteen afval en homself voor Oeroupa se oë aanmekaar las.
Sotskap en Jan Maerman en ander verhale is deur KreatiefSA uitgegee en kan bestel word by Stewie se seun Pieter Theron by pieter.theron9@gmail.com.
'We bring you the latest Oudtshoorn, Garden Route news'