LADISMITH NUUS - 'n 25-jarige vrou van Frankryk is verlede Vrydag in 'n ongeluk tussen Ladismith en Barrydale dood.
Volgens kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het die ongeluk 35 km vanaf Ladismith gebeur.
"Die sektorbevelvoerder van die landelike gebiede, ao. Bothma, was besig om die R62 te patrolleer toe hy op 'n voertuig langs die pad afkom. Met verdere ondersoek het hy gesien dat 'n silwer Kia Picanto op sy dak langs die pad lê."
Volgens Pojie was die Kia op pad na Oudtshoorn.
"Die bestuurder het beheer verloor, waarna die voertuig die pad verlaat en gerol het. Een insittende van België is met die AMS-helikopter na George geneem. Die oorledene is een van vier passasiers in die voertuig. Hulle was drie vrouens en 'n man."
Die oorledene is as Louisa Genissel geïdentifiseer.
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Karoo nuus'