TUINROETE DISTRIKNUUS - Pieter Fourie, dramaturg, digter, regisseur en vriend, sal nooit nié met ons wees nie.
Sy nalatenskap is merkwaardig, van sy skryfwerk en legendariese leiding as artistieke administrateur tot sy besonderse menswees.
So sê Hugo Theart, artistieke direkteur van Kunste Onbeperk (organiseerder van die KKNK), oor die afsterwe van Fourie, een van die stigters van dié fees. Fourie het Sondag 11 September in die ouderdom van 81 in sy huis op Onrus gesterf.
LEES: Dramaturg en digter Pieter Fourie sterf
“Sy afsterwe is ’n groot verlies vir ons almal. Daar is soveel mense wat hom baie beter as ek geken het, mense wat jare lank die voorreg gehad het om saam met hom te werk en te deel in die grootsheid van wie hy was en wat hy vermag het. Ek dink egter dat dié wat nie die voorreg gehad het om hom te ontmoet nie, veral ’n jonger generasie, besef nie watter impak hy gehad het en dat die werk wat hy onder meer by KRUIK en die KKNK gedoen het die grondlegging was om Suid-Afrikaanse teater, en veral Afrikaanse teater, die toonaangewende en grensverskuiwende krag te maak wat dit is nie. Pieter het die weg gebaan vir ons om werklik vooruitstrewende werk te kan doen en gehore op ’n ontdekkingstog geneem van alles wat teater en die kunste kan wees en moet wees.”
Hy was ’n inspirerende en imposante figuur, ’n operator en storieverteller wat jou meegesleur het, sê Theart.
“Hy het met soveel passie met die kunste omgegaan, maar ook die mag van teater én hoe dit ’n samelewing kan vorm, verstaan. Uit sy pen en onder sy wakende oog is daar werke geskep wat toe en steeds ’n uitwerking het op wie ons is en wat teater is, en wie ék is. Dit was voorwaar ’n voorreg om so nou en dan met hom te kon gesels die afgelope jare. Sy kennis en raad het hy vryelik gedeel, en altyd reguit en eerlike kommentaar gelewer, altyd met die welvaart van die kunste – en die KKNK – as dryfkrag. Dis sy vreesloosheid, sy eerlikheid, sy veggees vir dit wat reg en goed was, en altyd ter bevordering van die kunste en die mag wat dit het om ’n samelewing te vorm, wat ons almal altyd sal inspireer en bybly.”
Nic Barrow, sakeman, KKNK-stigter en goeie vriend van Pieter, sê: “Ek het Pieter oor baie jare leer ken as vriend en feesdirekteur. Hy was altyd toeganklik vir almal om sy formidabele kennis oor die kunste te deel. Hy het die fees met hart en siel gedien. Hy was geweldig eerlik, spesifiek met sy menseverhoudings. Ek onthou hom as iemand wat lekker kon kuier, veral met ’n glasie rooiwyn. Pieter het ’n baie goeie humorsin gehad wat hy tot in sy laaste paar dae geniet het. Hy was ’n regte mensch.”
Volgens Karen Meiring, voormalige uitvoerende hoof van die KKNK en KykNET, was dié teaterman ’n “werklik besonderse mens. Hy kon leiding gee deur ’n ongekende wysheid, ervaring en insig. Altyd skeppend. As hy nie geskryf het nie, het hy iets gebou en selfs houtwerk gedoen. Om die KKNK van die grond af te kry was nie eenvoudig nie en niemand het geweet of dit ’n sukses sou wees nie. Pieter het geweet ons moet werk aan die geloofwaardigheid van dié fees voordat dit plaasgevind het en het sodoende die regte rolspelers se inkoop gekry. Die hele gemeenskap van Oudtshoorn was vir ons belangrik en die Voorbrandfees wat voor die fees plaasgevind het, was ’n integrale deel van die feesaanbod. Hy was baie lief vir mense en ons kon altyd so lekker saamkuier.”
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein Karoo nuus'