DE RUST NUUS (Vlakteplaas) - Die bekende filmmaker, kameraman en regisseur, Koos Roets, het verlede naweek 'n driedag-filmkursus op die plaas Oulap aangebied.
Oulap is die woning van wyle filmmaker, Jans Rautenbach en sy vrou Almari.
Roets het deur die jare met talle van Rautenbach se films die kamerawerk gedoen. Volgens Eunice Visser, Roets se lewensmaat, het Almari vir Roets genader met die voorstel om 'n filmkursus op Oulap aan te bied.
"Vanaf 1 tot 3 Desember het 12 leergierige filmentoesiaste van verskeie dorpe in die Wes-Kaap op Oulap bymekaargekom om aan die hand van 'n kort filmteks en onder Koos se leiding 'n kortfilm te maak. Dit was 'n praktiese en uiters leersame drie dae," het sy Maandag gesê.
Elke kursusganger is by die kreatiewe en tegniese elemente van verfilming betrek. Hulle het meer geleer oor aspekte soos beligting, klank, kamerawerk, kontinuïteit en het ook as akteurs in die film opgetree. Belangrike elemente by die skryf van filmdraaiboeke is ook behandel.
Die meeste van die kursusgangers het in die groot kliphuis op Oulap tuisgegaan en elke dag is gesellig om die groot eetkamertafel onder 'n reuseskildery, Laaste Avondmaal, van Gordon Vorster afgesluit.
Koos Roets en Eunice Visser aan die kop van die tafel met die kursusgangers rondom hulle. Foto: Daleen Engelbrecht
Na die kursus het elke kursusganger 'n sertifikaat van bywoning ontvang.
Almari en haar dogter Erika Rautenbach was die gashere. Volgens Visser was die kursus 'n reusesukses en sal dit waarskynlik nie die laaste een wees nie.
Koos Roets maak Wesley Swart en Susan Greeff kamerawys.
Die filmspan by een van die tonele. Van links is: Koos Roets, Rebecca Uys, Susan Greeff, Dylan van Zyl en Willen Oets in die siekbed. Foto's: Eunice Visser
'Ons bring jou die nuutste De Rust, Klein Karoo nuus'