PRINS ALBERT NUUS - Vanjaar se aanbieding van die derde Indie Karoo-filmfees (IKFF) in Prins Albert wat in Oktober sou plaasvind, staan oor na 2018.
Die organiseerders het in 'n verklaring gesê dié besluit is geneem omdat die stigter, Johnny Breedt van Prins Albert, die res van die jaar betrokke is by die skiet van films in Amerika.
"Ons voel dat ons eerder daarop gaan konsentreer om 2018 se IKFF groter en beter as ooit te maak. Daar is reeds groot belangstelling van oorsese filmmakers om volgende jaar deel te neem, maar die tydsberekening werk nie nóú goed uit nie."
Breedt, 'n filmregisseur en stelontwerper wat sedert verlede jaar byna voltyds in Hollywood woon, het by navraag aan Oudts-hoorn Courant gesê hy het die afgelope jaar saam met die oud-Suid-Afrikaner Gavin Hood aan die film Official Secrets gewerk, "wat ons hoop om volgende jaar in Engeland en Suid-Afrika te skiet."
Breedt en Hood het ook saamgewerk aan die gewilde film Eye in the Sky wat op verlede jaar se IKFF vertoon is.
Maar dis nie waar Breedt se buitelandse filmbetrokkenheid eindig nie. "Ek werk tans aan 'n taamlik groot netwerk-TV-reeks vir ABC/Disney, met die titel For the People. Dis 'n nuwe hofdrama wat iewers in volgende jaar op die kassie gaan wees. Die regisseur is Shonda Rhimes, wat bekend is vir Grey's Ana-tomy, Scandal, How To Get Away With Murder en 'he Catch.
Die reeks handel oor drie Amerikaanse prokureurs en drie federale verdedigingsadvokate wat hul loopbaan in die hooggeregshof bou. Hierdie hof is vir baie bekende verhore in die werklike lewe gebruik, insluitende die eise-verhoor nadat die Titanic ge-sink het, die Martha Steward-verhoor en baie van die 9/11-terrorismesake. "Ons klank word by die beroemde Pa-ramount-ateljees opgeneem. Dis ook waar my kantoor is totdat die projek voltooi is."
Breedt vertel hy moes die Federale hofsale en gange vir die filmstel herskep, "en ek bou nou ook 'n groot kantoor vir die Amerikaanse prokureurs, plus nog een vir die verdedigingsadvokate. Ek het ook 'n stel ontwerp wat soos 'n woonstel in Park Avenue in New York lyk. Daar is 'n hele paar plekke in en om Los Angeles wat ons gebruik om New York en omgewing uit te beeld, maar ons sal later in die jaar ook na The Big Apple gaan om 'n paar dae lank van die buite-tonele te verfilm."
Hy het gesê hy is jammer oor enige ongerief weens die kansellasie van die IKFF. "Maar ons sien uit na IKFF 2018, en hoop ons sien jou daar."
Sy vrou, Yvette, 'n sakevrou van Prins Albert, reis gereeld na Los Angeles om vir hom te kuier.
Johnny Breedt by die ingang van Paramount Pictures, sy werkplek in Hollywood. INLAS: Johnny Breedt, filmregisseur en filmstelontwerper van Prins Albert, in sy kantoor in Hollywood. Foto's: Yvette Breedt
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Klein Karoo nuus'