Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Soms meld idees op die vreemdste maniere by 'n kunstenaar aan. Dit was die geval met Chris Slabber, bekende grafiese kunstenaar van Oudtshoorn toe hy met die beplanning van sy nuwe uitstalling begin het.
"Ek was besig om my lino-rollers op 'n stuk papier skoon te maak toe ek die idee kry om die rollers as kwaste te gebruik om figure te skep," het hy Dinsdag in sy ateljee gesê waar hy reeds 'n hele aantal nuwe werke voltooi het.
Volgens Slabber het hy ook ander voorwerpe, soos byvoorbeeld 'n rubberseël, ingespan as 'n kwas. Die resultaat is 'n reeks abstrakte figure wat van naby bloot 'n klomp blertse is, maar op 'n afstand figure met fyn detail is.
Slabber het reeds verskeie internasionale pryse vir sy grafiese werk gewen, veral vir sy werk met foto-manipulasie.
Vir een van sy vorige uitstallings het hy figure geskep deur duisende fyn reguit lyntjies in ink te trek en elke werk het ure en ure geneem om te voltooi. Maar, sê hy, "ek het 'n paar maande gelede 'n begeerte gekry om my hande weer vuil te kry met ink en dit is vir my heerlik om weer so te werk."
Die uitstalling, Figuur, waaraan hy tans werk, hou hom reeds die afgelope drie maande besig en dit open op 28 November.
Internasionale erkenning
"Oor sy internasionale pryse is hy glad nie grootpraterig nie al het hy verlede jaar in Italië 'n platinum-toekenning uit 9 000 inskrywings ingepalm. Dit was vir sy foto's van insekte wat hy self uit afvalmateriaal gebou en gefotografeer het.
Hy het verlede jaar in die Oudtshoorn Courant oor die toekenning gesê: "My opdrag was om modelle van ses insekte te skep en dit dan uit verskillende hoeke af te neem. Die uitdaging was egter dat ek besluit het om die modelle te maak van materiaal wat in die omgewing waar die insekte voorkom en die kos wat hulle eet, uitbeeld.
Ek het besluit om die insekte uit afval te bou eerder as om hulle met rekenaartegnologie te ontwerp, want ek wou hulle so realisties as moontlik hê en wou ook hê mense moet bietjie vir hulle gril. Ek het oorskietkos, groente, vrugte, hare, pels en enige afval wat ek in die hande kon kry, gebruik om 'n muskiet, vlieg, vlooi, kakkerlak, vismot en 'n mier te bou."
Buiten hierdie toekenning het hy ook by vorige kompetisies in Italië platinum-, goud- en silwertoekennings ontvang. Een van sy grootste werke was 'n lewensgrootte skets van 'n marlyn van 3,8 m lank. Hy het die marlyn geskep met 6 800 lynkolomme wat hom 320 uur geneem het.
Slabber het al verskeie solo-uitstallings in Oudtshoorn gehou en is ook in 2017 genooi om aan die Absa-uitstalling by die KKNK deel te neem.
Sy uitstalling in die Prince Vincent-gebou open op 28 November om 18:30 en duur tot 15 Desember en sal daagliks vir die publiek oop wees. Hy beplan om 15 groot figuurstudies en 'n aantal kleiner linowerke uit te stal.
Kyk 'n video hieronder.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'