OUDTSHOORN NUUS - "Hierdie week gaan ons groot makietie hou! So het Oudtshoorn-burgemeester, Chris Macpherson, verlede Vrydagaand by die KKNK se amptelike opening by die Prince Vincent-gebou in Baron van Rheedestraat onder groot applous beloof."
"Ten spyte van Eskom en al sy negatiwiteite kan ek u verseker dat ons as munisipaliteit alle kunstenaars, betrokkenes en feesgangers met enigiets sal bystaan. Baie welkom aan almal."
Oud RSG-omroeper, Haidee Muller-Isaacs, was die seremoniemeester van die aand en het gereeld die sowat 250 gaste met haar kwinkslae laat glimlag. Na afloop van die formaliteite is daar heerlik gesmul aan versnaperinge terwyl Maya's Entertainment-orkes die gehoor vermaak het.
Absa-kuierkamer
Oudtshoorn Courant het die volgende dag (Saterdag) 'n draai by die Absa-kuiertuin (agter De Jager-sportkompleks) gemaak. Dit is vanjaar die 21ste keer dat Absa die KKNK borg.
Brahm Ellie, Absa-streekhoof van die Suid-Kaap, het al Absa-kliënte bedank vir hul lojaliteit en hul genooi na die Absa-kuiertuin om 'n bietjie te kom ontspan en kuier, ook nie-kliënte is welkom om in te loer, het Ellie gesê. Absa se mobiele-bank sal ook vir die tydperk van die fees op die perseel wees en is toegerus om alle funksies en dienste te verrig soos 'n gewone bank - ook inligting oor nuwe produkte. Volgens Ellie is een van hul nuwe opwindende produkte die alternatiewe power solution finansiering wat kliënte help met beurtkrag veral besighede wat gebukkend gaan gedurende hierdie tydperk.
Dan is daar ook kunstenaars wat optree, geselsprogramme en vaardigheidsessies vir die jeug. Een so 'n sessie onder leiding van Abongile Sidzumo vind elke dag by die Prince Vincent-gebou plaas waar leerders van die Oudtshoorn Vaardigheidskool byvoorbeeld geleer word hoe om rame vir kunswerke te maak.
Wat hul jare lange borgskap betref het Ellie gesê dat Absa trots is om met die KKNK te assosieer en dat hul borgskap hul ondersteuning vir die kunste ten toon stel.
Hugo Theart, uitvoerende hoof en artistieke direkteur van die KKNK het gehoor aangeraai om gebruik te maak van die netjiese, omvattende feesgids.
Chris Macpherson
Absa-personeel. Foto's: Wyndham Ewerts
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’