OUDTSHOORN NUUS - Een van die algemeenste verskonings wat mense gee om nie kuns te koop nie is "My mure is reeds te vol". Dit is een van die redes wat dr. Janet Dixon, eienaar van ArtKaroo kunsgalery in Oudtshoorn laat herbesin het oor die tema vir 'n winteruitstalling.
"Kuns is nie slegs skilderye of beeldhouwerk nie, kuns is juis die skep van iets nuuts, van iets ongewoons," het sy verlede Donderdagaand tydens die opening van die uitstalling, Things to live by, gesê.
Verskeie bekende en plaaslike kunstenaars is twee maande gelede uitgedaag om kunswerke te skep wat ook as gebruiksartikels kan dien. "Die reaksie, entoesiasme en kreatiwiteit van kunstenaars was oorweldigend," sê Dixon.
Stoele, lampe, spieëls, tafels, rakke, wakiste, kershouers en 'n verskeidenheid ander huis-houdelike items is deel van die uitstalling wat tot 31 Julie duur.
Tydens die opening van die uitstalling het Jaco Kriek, oogkundige van Oudtshoorn, gaste trakteer met sy saksofoonspel. ArtKaroo is in die Prince Vincent gebou, in die steeg langs Mr Price geleë.
Gaste tydens die opening van die uitstalling.
ARTIKEL & FOTO'S: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT REDAKTEUR
"Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'