LADISMITH - 'n Familie-uitstappie na Uniondale het verlede Saterdag tragies geëindig na Lee-Markwin Hess (7) in 'n motorongeluk gesterf het.
Lee-Markwin het saam met sy familie 'n rugbywedstryd van die plaaslike span in Uniondale gaan ondersteun. Dinge het egter met die terugkeer na Ladismith 'n tragiese wending geneem.
Volgens die familie was dit 'n heel aangename dag en het hulle na die rugby weer teruggery huis toe.
Celeste Hess, 'n passasier in die motor, het aan Oudtshoorn Courant vertel dat die motor net buite Calitzdorp aan Oudtshoorn se kant, begin swenk het en gruis gevang het.
Die bestuurder het toe beheer oor die voertuig verloor en die voertuig het die pad verlaat.
"Die kar het omgeslaan en Lee-Markwin het uitgeval," vertel 'n aangedane Raydene Hess, moeder van die jonge Lee-Markwin.
"Lee-Markwin het onder die kar gelê."
Mariska Braaff, Lee-Markwin se klasonderwyser, het hom as 'n goed opgevoede en lojale leerder beskryf.
Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, het die voorval bevestig en genoem dat Lee-Markwin op die toneel deur paramedici dood verklaar was.
Die begrafnis sal op Saterdag 20 Mei vanuit die Maranatha Kerk plaasvind.
Lee-Markwin se moeder, Raydene Hess. Foto: Deon Meyer
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’