OUDTSHOORN NUUS - 'n Facebook-boodskap wat met 'n heel onskuldige vraag begin, kan jou duisende rande kos.
In 'n foefie wat die afgelope maande gereeld die ronde doen word 'n persoon se Facebook-profiel deur die skelms gekloon.
Hulle stuur dan 'n Facebook-boodskap aan die persoon se Facebook-vriende net om te hoor hoe dit gaan, Die volgende boodskap is, "Het jy al gehoor van die goeie nuus op Facebook?"
En dit is presies hier waar jy onmiddellik die persoon moet blok. Moenie eens reageer nie.
'n Inwoner van Oudtshoorn was een van talle mense wat so 'n boodskap van 'n "vriendin" ontvang het en sonder om twee keer te dink het sy gereageer.
Sy is deur die "vriendin" meegedeel dat haar naam op 'n lys van mense is wat R950 000 deur een of ander Facebook-lotery gewen het. Sy het gelukkig snuf in die neus gekry toe die "vriendin" haar as "u" aanspreek, maar teen daardie tyd het sy reeds al haar persoonlike inligting soos Identiteitsnommer, adres en kontakbesonderhede gegee.
Die "vriendin" het toe vir haar 'n WhatsApp-nommer gegee waarheen sy al haar gegewens moes stuur. Sy is toe per WhatsApp in kennis gestel dat sy haar geskenk van R950 000 dieselfde dag al sou ontvang indien sy 'n administrasiefooi van R5 500 in 'n FNB-rekening inbetaal. Gelukkig het sy toe reeds agterdogtig geraak en nie die geld betaal nie.
Oudtshoorn Courant het 'n WhatsApp na die nommer gestuur wat glo aan 'n Anette van Wyk behoort. Die boodskap is gelees, maar geen reaksie is ontvang nie. Alhoewel die kontaknommer glo aan 'n Anette behoort is die rekeninghouer van die FNB-rekening waarin mense R5 500 moet betaal in die naam van 'n M Sechaba.
Lesers word gewaarsku om nooit op enige boodskappe op sosiale media te reageer alvorens daar seker gemaak is dat die boodskap wel van 'n bestaande persoon kom nie. Volgens 'n persoon wat gereeld met hierdie tipe foefies te doen kry is die oplossing heel eenvoudig.
"As jy 'n boodskap van 'n Facebook-vriend kry wat jy ken, vra 'n vraag waarop die persoon sal kan antwoord as dit die werklike persoon is. Vra byvoorbeeld iets oor 'n gemeenskaplike vriend of maak sommer 'n vraag op oor iemand wat nie bestaan nie. Uit die antwoord sal jy maklik aflei of dit die regte persoon is wat vir jou 'n boodskap gestuur het."
Volgens hom is die goue reël egter om glad nie op sulke boodskappe te reageer nie en nooit, maar nooit, enige persoonlike inligting te gee nie. "Die realiteit is dat niemand, en ek bedoel niemand, nie Bill Gates of Facebook, of Google, of Pick n Pay of wie ook al, uit die bloute sommer net derduisende rande sal weggee nie. Dit maak mos glad nie sin nie."
Die oorspronkiike Facbook-boodskap wat die persoon ontvang het. Gedeeltes in rooi gemerk, is voorbeelde van inligting wat rooi vlae moet laat wapper.
Nadat die persoon al die inligting gegee het, het die werklike foefie duidelik geword toe daar gesê word dat R5 500 eers inbetaal moet word.
Die bankbesonderhede wat aan 'n voornemende slagoffer gestuur word waarheen die R5 500 oorgeplaas moet word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'