OUDTSHOORN NUUS - Die gewilde Eskom Ekspo-werksessie vir jong wetenskaplikes vind op 18 Februarie en 25 April op Oudtshoorn plaas.
Die doel van die ekspo is om leerders met innoverende idees aan te moedig om met hulle kreatiewe denke, nuwe projekte aan te pak.
Adele de Vos, kassier en area-koördineerder van vanjaar se Eskom Ekspo en opvoeder by Bridgton Sekondêr, het bevestig dat 50 leerders van BSS reeds aangedui het dat hulle gaan deelneem.
De Vos het ook leerders met wetenskapvakke soos wiskunde, tegnologie, fisiese en lewenswetenskappe, ingenieurswese en tegniese vakke in die Oudtshoorn-omgewing aangemoedig om deel uit te maak van die beplande werksessie.
Volgens De Vos beoog sy in haar persoonlike kapasiteit om in Maart en Junie vir twee dae per week nadat die kontrole toetse afgehandel is ook 'n werksessie aan te bied. Alle skole is welkom en geen koste is daaraan verbonde nie. Leerders sal van kospakkies voorsien word en die werksessie sal ongeveer drie ure duur.
Vir meer inligting en registrasievorm kontak De Vos by adeledevos28@gmail.com.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'