OUDTSHOORN NUUS - Ernaleigh Singwaan is Hoërskool Môrester se topmatrikulant vir 2023 met 'n slaagpersentasie van 76,2% en gaan onderwys (grondslagfase) studeer.
Die skoolhoof, Brandon Claassen, het Vrydag aangekondig dat hoewel die slaagpersentasie vanaf 81,9% die vorige jaar gekrimp het tot 75,1% hy nogtans baie trots is op die klas van 2023.
Die klas se vyf toppresteerders is Ernaleigh Singwaan (76,2%), Sakesha Washinggreen (75%), Lee-Ashwill Jacobs (74,7%), Liaan Abrahams (72,1%) en Damian Goliath (69,2%).
"Ons het in 2023 baie uitdagings ervaar met onder andere 'n tekort aan opvoeders, maar julle het my trots gemaak. Ons ster skitter steeds helder," het Claassen gesê.
Hy het bygevoeg dat 142 van die 189 kandidate, wat vir die eksamen ingeskryf het, geslaag het.
Die burgemeester van Oudtshoorn, Chris Macpherson, wat die geleentheid bygewoon het, het ook die suksesvolle kandidate gelukgewens en gesê hy is trots op almal.
"Jy het nou daardie leer geklim, maar nou begin die harde werk eers."
Hy het ook die opvoeders geloof vir hul harde werk en diegene wat nie suksesvol was nie aangemoedig om nie tou op te gooi nie. Hy het leerders aangemoedig om nie te huiwer om hom te besoek nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’