PRINS ALBERT NUUS - Met Prins Albert se 9 boorgate wat besig is om op te droog, het die Wes-Kaapse regering die droogte as die die ergste in 100 jaar verklaar.
Anneleen Vorster, korporatiewe- en gemeenskapsdiensbestuurder by die munisipaliteit, het Maandag bevestig dat uiters streng waterbeperkings ingestel is.
Met haar mondelingse persverklaring Maandagoggend oor die droogte wat as 'n ramp beskryf word, het sy dit as die derde ergste in die laaste 100 jaar beskryf.
Kort na haar persverklaring het amptenare van die Wes-Kaapse regering-rampbestuur 'n besoek aan die dorp afgelê en verklaar dat dit die ergste in die laaste 100 jaar is.
Dié Karoo-dorp, wat van boorgatwater afhanklik is, se munisipaliteit veg nou om te vehoed dat boorgate heeltemal opdroog.
Burgemeester Goliath Lottering het waterbeperkings goedgekeur wat die ongeveer 9 000 inwoners toelaat om slegs 90 liter water per dag per persoon te gebruik.
Die waterbeperkings is sedert Woensdag 3 Januarie van krag.
Die waterbeperkings is 'n poging om die kommerwekkende realiteit dat die dorp op die oomblik 46 000 liter water per dag uit sy boorgate pomp, maar 100 000 liter per dag gebruik word, om te keer.
"Ons as munisipaliteit het ‘n omvattende bewusmakingsveldtog van stapel gestuur om te verhoed dat ons boorgate leegloop, het Vorster gesê.”
Amptenare besoek gastehuise en toeristebestemmings om waterbesparingsbewusmaking te doen. Die gebruik van tuinslange, was van motors en vul van swembaddens met munisipale water is verbied. Wetstoepassers hou 'n wakende oog oor die gebruik van water.
Lees 'n vorige artikel: Prins Albert se boorgate droog op
ARTIKEL: CHRISTO VERMAAK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Karoo nuus'