PRINS ALBERT NUUS - Prins Albert-munisipaliteit se nege boorgate, wat die dorp van drinkwater voorsien, is besig om op te droog.
Dié Karoo-dorp, wat van boorgatwater afhanklik is, het nou streng waterbeperkings ingestel in ‘n poging om te vehoed dat boorgate totaal opdroog.
Anneleen Vorster, koporatiewe- en gemeenskapsdiensbestuurder by die munisipaliteit, het bevestig dat burgemeester Goliath Lottering waterbeperkings goedgekeur het wat die ongeveer 9 000 inwoners toelaat om slegs 90 liter water per dag per persoon te gebruik. Die waterbeperkings is sedert Woensdag 3 Januarie van krag.
“Ons kry op die oomblik 46 000 liter water per dag in en gebruik tans 100 000 liter per dag. Die afgelope naweek was die gebruik 146 liter gemiddeld per inwoner. Ons as munisipaliteit het ‘n omvattende bewusmakingsveldtog van stapel gestuur om te verhoed dat ons boorgate leegloop.”
Sy het dit as ‘n ramp en krisis beskryf.
“Dit is die derde ergste droogte in 100 jaar. Ons is op pad om ‘n erger droogte as die tweede ergste in 100 jaar te beleef.”
Volgens Vorster is Prins Albert ‘n gewilde toerismebestemming met geweldig baie gastehuise. “Ons gaan by al die gastehuise en toerisme-attraksies om, om waterbesparingsbewusmaking te doen. Wetstoepassers hou ook ‘n wakende oog oor die gebruik van water.”
Sy sê die gebruik van tuinslange, was van motors en vul van swembaddens met munisipale water word verbied.
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Klein Karoo nuus'