TUINROETE DISTRIKSNUUS - Staaltjies en grappies het die samekoms op Sondagmiddag, 3 Oktober by die Suid-Kaap Oumotorklub (SKOMK) se hoofkwartier gekenmerk toe 'n kamer vol deelnemers aan vanjaar se Erfenistoer (van 23 tot 26 September) byeengekom het.
Verskeie eienaars van die 25 besonderse motors, waarvan party, soos die 1941 Packard Convertible 120, selfs 'n wêreldoorlog oorleef het, was teenwoordig om te gesels oor vanjaar se toer deur die Suid-Kaap, Boland en Klein-Karoo.
Slegs motors wat voor 1980 gebou is kon registreer. Boonop het 10 van dié jaar se oumotoreienaars nog nooit vantevore die toer meegemaak nie. Die oudste toervoertuie was onderskeidelik die twee Ford Model A's van 1929 en 1931.
Gerhard Hoefner by die oudste voertuig, 'n 1929 Ford Model A wat die toer meegemaak het.
Bestuurders wat al nege Erfenistoere tot op hede in dieselfde motors meegemaak het is Chris van Staden in sy 1968 Porche 912 Targa, George Marx in 'n 1957 Morris Minor, en Erfenistoer-organiseerder Pierre Olivier. Olivier se gade, Tilly het in die passasiersitplek van hul 1961 Morris Minor saamgereis.
Mooiste gesig
Tydens die nabetragtingsmaal was die Oliviers duidelik nog opgewonde oor hul pas afgelope ondervinding.
"Dit was so 'n pragtige roete dat dit moeilik is om enige deel of dorp uit te sonder," sê Pierre.
"Omdat ek uit 'n landbougemeenskap kom, was dit werklik die mooiste gesig toe ons oor 'n bult ry en hier voor ons lê die Theewaterskloofdam wat oorloop. Ek het in daardie area gewerk en het die dam op sy heel laagste vlak teen 7% vol, gesien. Wat 'n ervaring om hom nou te sien oorloop. Die ander plekkie wat ook prentjiemooi was, is die dorpie Elim met sy rietdakhuisies wat allerhande kleure geverf is. Ons moes eenvoudig daar stop en die uitsig bewonder."
Op Saterdag, 25 September het die toergroep van Worcester af deur Montagu, Barrydale en Calitzdorp gery voordat die dag in Oudtshoorn met 'n swierige aand en prysuitdeling afgesluit is. Op die Sondag het die stoet deur De Rust na George teruggekeer.
Toe die toerlede van George 'n week later weer byeenkom, is dank oorgedra aan die SKOMK-voorsitter, Mike Alexander en sy komitee, so ook aan Philip Kuschke van die SA Veteran and Vintage Association.
Die SKOMK organiseer ook die gewilde George Oumotorskou vir 12 en 13 Februarie 2022. Besoek www.scocc.co.za vir verdere besonderhede.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'