OUDTSHOORN NUUS - By Eljada Nasorgsentrum vir persone met gestremdhede gaan dinge tydens die algehele inperking feitlik soos normaal voort, behalwe vir die feit dat geen inwoner die perseel mag verlaat nie en niemand, behalwe personeel en noodsaaklike dienste, mag ingaan nie.
So sê Wilma Lemmer, hoof van Eljada Nasorg.
Van die 97 inwoners is daar tans 26 inwoners wat by hul familie is omdat hulle voor die algehele inperking daar gekuier het.
"Ons personeel is ook uitgedun. Van hulle is op spesiale verlof omdat ons nie hulle gesondheid in gedrang wil stel nie, maar hier is steeds genoeg personeel om mooi na elke inwoner se belange om te sien. Die wat nie hier slaap nie se koors word elke oggend gemeet en soos die res van die land maak ons als maar net meer gereeld skoon."
Volgens haar het skenkings egter minder geword en uit gesprekke wat die Oudtshoorn Courant met die inwoners gehad het, is veral wol en lap, waarmee hulle hulself daagliks besig hou, vir hulle 'n noodsaaklikheid.
Lemmer sê skenkings wat nog afgelewer word, word by die hek ontvang, skoon gemaak en gewas en dan aan inwoners gegee.
"Ons probeer regtig hard om hulle moedig te hou. Baie is effe gefrustreerd omdat hulle hul daaglikse uitstappies na die winkel of kuiertjies met familielede mis, maar ons maak maar staat op ouers en familielede wat gereeld bel of selfs 'n video-oproep maak," het sy gesê.
Inwoners van Eljada Nasorg hou hulself met naaldwerk en ander takies besig. Foto's: Liezl van Niekerk
Van die inwoners het aan die koerant gesê dat die inperking "maar iets is waarmee hulle moet vrede maak" terwyl ander gefrustreerd was omdat die werk by die winkel minder geraak het omdat bestellings minder geword het. Hul grootste hartseer is egter die kuiers saam met en by die familie wat minder geraak het.
Lemmer sê hulle hou steeds die inwoners met naaldwerk, tuinwerk en kralewerk besig.
"Ander lees en gesels. Hulle kry heerlike kos. Die kos word ook afgelewer en ons getroue kombuispersoneel werk ewe hard om die inwoners gelukkig te hou en iets spesiaal aan hulle te gee."
Lemmer sê hulle hou steeds die inwoners met naaldwerk, tuinwerk en kralewerk besig.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'