Die department van onderwys het die inisiatief geneem vir die aanbieding van die heel eerste lewenstyl ekspo by 'n hoërskool. Al die skool se leerders vanaf gr.8 tot gr.12 het Dinsdag en Woensdag die geleentheid gehad om nader kennis te maak en ingelig te word oor kwessies waardeur alle jongmense daagliks gekonfronteer word.
Die gebruik, misbruik en gevare van middels soos alkohol, sigarette en dwelms is deur kapt. Louis Visser van die Oudtshoorn-polisie aangebied.
Op hulle beurt het Kansa die leerders bewus gemaak van die voorkoms, diagnose en gevare van testikulêre-, prostaat-, servikale- en borskanker.
Die gevare van seksueel-oordraagbare siektes asook seksuele gedrag van jong mense is deur amptenare van die Wes-Kaapse department van gesondheid uitgelig terwyl dr. C A Dreyer 'n sessie oor MIV/Vigs en tuberkulose aangebied het.
'n Maatskaplike werker van Eljada-Kairos skool, me. Duvenhage het met die jongmense oor die simptome van depressie en die voorkoms van selfdood onder tieners gepraat.
Volgens Gerda Swart, die maatskaplike werker van Kring 5 wat die ekspo gekoördineer het, was die lewenstyl-ekspo 'n groot sukses wat positief deur al die leerders ervaar is.
'n Groep gr.12-dogters by dr. Dreyer se aanbieding oor MIV/Vigs.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'