Verkeersbeampte Matthews het omstreeks 02:00 die bestuurder van 'n minibus beveel om van die pad af te trek nadat hy die voertuig op die N2 opgemerk het. Die voertuig het uit die rigting van Albertinia gekom.
Nadat die voertuig tot stilstand gekom het, het drie persone op die vlug geslaan. Binne die taxi is op 'n Merinoram en ses ooie afgekom. Elke skaap het 'n tradisionele merk aan een van hul ore.
Die skape, wat ongeskeer is, het te oordeel aan hul wol op rooi grond gewei.
Die bevelvoerder van die Veediefstaleenheid op Oudtshoorn, Kapt Christo Serfontein, doen 'n beroep op plaasboere om hul vee deeglik te merk sodat die regmatige eienaars indien nodig opgespoor kan word.
Enige persoon wat die sewe skape kan uitken of weet wie die regmatige eienaar is, word versoek om Ao Fred Rabie by 081 591 4803 te kontak.