Volgens Frans Pretorius, 'n familielid van die egpaar, het Christina (59) en Julie Pretorius (63) se huis 'n paar jaar gelede ook afgebrand, maar het hulle die tragedie oorleef.
"Hulle het 'n regte huis gehad en toe brand die huis af. Daardie brand het hulle oorleef. Hulle het die plakkershut opgerig en het lank hier gewoon. Dit was God se wil - ons kan nie daarmee stry nie," vertel hy.
Pretorius sê daar woon agt mense in die huis, maar net vier mense was Saterdagaand daar toe die hut afgebrand het.
Die Pretorius-egpaar se 8-jarige kleinseun, Eden Pretorius, is in die Rooikruis-kinderhos-pitaal met verskeie brandwonde opgeneem. Die vierde was 'n kleindogter wat badkamer toe gegaan het voor die brand uitgebreek het. Sy was nog buite toe die huis in vlamme uitgebars het en het geen beserings opgedoen nie.
Volgens Angelique Jordaan, woordvoerder van die Rooikruis-kinderhospitaal, is Eden tans in 'n kritieke toestand in die intensiewe sorgeenheid.
"Op hierdie stadium kan ons nie bevestig wanneer hy ontslaan sal word nie omdat dit van sy vordering sal afhang, maar hy sal nog 'n geruime tyd by die hospitaal wees," het sy gesê.
Kapt. Bernadine Steyn, woordvoerder van die Suid-Kaap-polisie, sê die brand het ongeveer 21:10 begin.
'n Geregtelike doodsondersoek word gedoen.
Forensiese deskundiges het laat Saterdag-aand die verkoolde lyke van die egpaar uit die plakkershut verwyder. Foto: Liezl van Niekerk
ARTIKEL: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'