OUDTSHOORN NUUS - Te danke aan Glen Klaas, Aurial-kollege se nuwe sportafrigter en -ontwikkelaar, word rugby vir die eerste keer sedert dié skool se ontstaan aangebied.
Klaas sê hy het aan die begin van die jaar met afrigting begin en sedertdien het die o.15-span ses wedstryde, die o.16-span vier wedstryde en die o.19-span drie wedstryde gespeel. Die skool het ook vanjaar aan die Zibi Sewes-byeenkoms deelgeneem.
“As mens in ag neem dat dit die leerders se eerste hoërskoolwedstryde is, doen hulle regtig goed. Daar is glad nie sportvelde om op te oefen nie, en ons moet op die Bridgton-sportterrein oefen,” het hy gesê.
Volgens hom is daar in die verlede netball en atletiek aangebied, maar was dit nie deurlopend nie.
“Ons is ook van plan om ook te begin met skaak-, basketbal- en vlugbalafrigting.”
Klaas sê hul groot probleem is egter dat daar nie sporttoerusting en -fasiliteite by die skool is nie.
“Ons het al borge gehad wat vir ons keels en rugbyballe geskenk het en daar is twee vrywilligers wat bereid is om te help met afrigting.”
Klaas sê hul groot probleem is egter dat daar nie sporttoerusting en -fasiliteite by die skool is nie.
Klaas sê ten spyte van dié te korte gaan hulle voort om die kinders te help.
“Bende-aktiwiteite is ‘n groot probleem by die skool en dit is hoekom ons ernstig aandag moet gee aan sportopleiding by die skool. Dit gee die kinders iets om te doen na skool, iets om op trots te wees en ons help ook om hul talente te ontwikkel.”
Enigiemand wat wil betrokke raak kan Klaas by 078 344 5639 skakel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'