OUDTSHOORN NUUS - Honderde leerders in Oudtshoorn het Maandag en Dinsdag hul eerste skooldag met gemaskerde angstigheid begin. Hulle is die eerste leerders vir wie dit normaal gaan wees om Covid-19-maatreëls as deel van hulle skoollopbaan te ervaar.
Met Oudtshoorn Courant se besoek aan die skole het skoolhoofde aangedui dat hulle slaggereed is om die nuwe jaar aan te pak.
Alhoewel Covid-19 'n hele aantal uitdagings het, is hulle seker dat hulle alle nodige reëls en regulasies in plek het om die veiligheid van elke kind en onderwyser te verseker.
Fotogalery: Eerste dag van skool
In meeste skole word leerders in groepe verdeel wat op alternatiewe dae skool toe gaan, maar daar is ook skole waar leerders elke dag skool toe gaan, maar dan in kleiner groepe in verskillende lokale onderrig ontvang. By hierdie skole speel klasassistente 'n uiters belangrike rol.
Leerders en onderwysers moet ook te alle tye maskers dra, hulle hande ontsmet en 'n veilige afstand van mekaar handhaaf. Vir eers is die dae verby waar Mamma sommer gou-gou by Boetie se klas kan indraf om sy kosblik wat vergete gebly het, vir hom te gee. Streng toegangsbeheer word by die meeste skole toegepas.
Volgens Bronagh Hammond, direkteur van kommunikasie van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, is daar nog nie finale getalle oor presies hoeveel graadeens vir die jaar ingskryf het nie. Volgens haar het die WKOD streng Covid-19-regulasies vir elke skool gestuur waaraan hulle moet voldoen en gaan die skole soos verlede jaar voort.
"Graad 12's gaan elke dag skool. Ander leerders volg die alternatiewe rooster en moet 'n minimum van vyf dae in 'n 10 dae siklus skoolgaan.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'