PRINS ALBERT NUUS - Twee vroue van die munisipale gebied van Prins Albert het die afgelope 24 uur aan Covid-19-verwante oorsake gesterf.
Dit is Prins Albert se eerste sterfgevalle weens dié siekte.
Die Prins Albert-munisipaliteit het vroeg vanoggend die afsterwe aangekondig van een van sy staatmaker-amptenare, Debbie Mooneys (in haar veertigs), 'n bestuurder in die afdeling menslike hulpbronne. Kort daarna het raadslid Linda Jacquet (DA) op haar WhatsApp-wyksgroep gesê dat 'n vrou van Leeu-Gamka, Elsie Lottering, gister weens die virus oorlede is.
Statistiek van die Wes-Kaapse regering het getoon dat 127 Prins Alberters tot dusver positief getoets het vir Covid-19, van wie 54 herstel het.
Luidens 'n verklaring van die munisipaliteit was Mooneys 'n geliefde amptenaar. "Geen woorde kan ons gevoel van verlies beskryf nie. Ons harte is stukkend. Ons innige meegevoel aan Debbie se dogter, Lodé, en die res van haar familie. Bid asseblief vir hulle, asook vir die munisipale personeel."
Vriende van Mooneys het haar as die "hartklop" van die munisipaliteit beskryf.
Sy het vroeër vandeesmaand siek geword en is in die nag van 10/11 Desember met 'n lugambulans van die Prins Albert-hospitaal na 'n hospitaal in Kaapstad geneem waar sy sedertdien in die hoësorgeenheid aan 'n ventilator gekoppel was.
Verdere inligting oor Lottering is nog nie bekend nie.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'