OUDTSHOORN NUUS - Om 'n spekboomsteggie na die botaniese tuine in Noorweë te neem om die fokus op aardverwarming te plaas en die impak van spekbome op aardverwarming te verduidelik. Dit is Mark Mitchell se doel vir die volgende vier jaar.
Mitchell doen sy staptog vanaf Kaap Agulhas en het tot dusvêr 337 km van sy beplande 18 000 km afgelê en is tans in Calitzdorp.
"Ek wil hê teen die tyd wat my kleinkinders se kinders gebore word, die aarde nog moet bestaan, maar teen die tempo waarteen ons nou beweeg weet ek nie of dit gaan gebeur nie. Ek het nog altyd 'n voorliefde gehad vir groot avontuur en om my uithou-vermoë te verskuif. Die reisgogga het altyd bestaan. Ek wil klimaatsverandering bestry deur biljoene bome te plant vir natuurlike koolstofsekwestrasie en deur ons plaaslike, natuurlike ekosisteme te rehabiliteer deur alle uitheemse plantspesies, wat nie endemies aan ons ekosisteem is nie, te verwyder."
Hy sê deur dit te doen kan daar werk vir mense geskep word en kan volhoubare boerderypraktyke gevestig word.
Volgens hom was dit nog altyd sy groot droom om so 'n avontuur per fiets aan te pak.
"Ek het egter besluit om te stap omdat daar nie baie mense is wat dit doen nie. Ek het toe besluit dat ek dit wil doen vir 'n spesifieke doel, en omdat aardverwarming my na aan die hart lê het ek dit gekies. Ek stap fisies self met die spekboom tot waar die grense my toelaat."
Mitchell sê enigiemand wat belangstel om te help kan bome of struike koop om in jou of jou maatskappy se naam te laat plant.
Ondersteun
Diegene wat hierin belangstel kan Plant a Tree - South African Reforestation Trust (saforesttrust.com) besoek.
Hy sê verder mense wat hom wil onder-steun kan vir hom 'n koffie teen R36 of 'n ete teen R72 koop.
Vir meer inligting oor sy ervarings en sy vordering besoek sy webwerf by thegreattrek.co.za. of kontak Magda Grobbelaar by 076 669 3508 of admin@thegreattrek.co.za
Foto's: verskaf
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’